LADISMITH NUUS - Shamiela Arendse (26), ‘n jong polisiebeampte oorspronklik van Ladismith, is gisteraand voor haar huis in Delft, Kaapstad doodgeskiet.
Volgens Arendse se ma, Sorita, het Shamiela in 2016 by die polisie begin werk.
“Daar was nou juis 'n moontlikheid dat sy binnekort ‘n oorplasing na Ladismith sou kry. Dit was altyd 'n hartseer storie wanneer sy na 'n naweek of vakansie na Kaapstad moes terugkeer,” vertel haar ma.
Volgens haar het Arendse se pa in Januarie gesterf en was Arendse die broodwinner in die huis.
“Einde Februarie was daar 'n inbraak by haar woonstel in Delft en wou sy nie 'n saak maak nie, omdat sy geglo het die bendes sal terugkom om haar dood te maak,” sê haar ma met trane in haar oë.
“Haar kindertjies vra baie vrae: Is mammie nog in die hospitaal? Wanneer kom mammie huis toe?”
Haar ma noem dat mense sê dat dit 'n dwaalkoëel was wat haar getref het.
“Hoekom juis sy tussen vier mense wat daar gestaan het? Ek is 'n gelowige vrou en glo dat wanneer jou tyd aangebreek het, niks verander kan word nie.”
Volgens ‘n polisiewoordvoerder in die Skiereiland, Novelwa Potelwa, het die 26-jarige konstabel saam met drie ander persone voor haar woning gestaan toe onbekende mans verskeie skote op hulle gevuur het. Potelwa sê dat die motief vir die moord onbekend is.
Die begrafnis word vir word vir volgende naweek beplan.
Shamielah Arendse se vriend, Johnelee Antonie met hul twee kinders, Azaniah (4) en Johnisia (8). Foto: Deon Meyer
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Klein Karoo nuus'