OUDTSHOORN NUUS - 'n Nuwe jong entrepreneur, wat verlede jaar haar eie besigheid begin het, se grootste doel is om ander jong mense te inspireer.
Acira Moos (14), het op die ouderdom van 13 besluit om vir haar eie sakgeld te begin werk en dit was die begin van AC Carwash.
Sy is 'n leerder aan Bridgton Sekondêr en 'n kranige krieketspeler wat onlangs by Harlequins aangesluit het.
"My ma, Rochelle, is dood toe ek 11 jaar oud was. Daarna was dit net ek en my pa. Ek het gesien hoe hy alles moet doen en al die onkostes self moet dek, en ek wou nie verder vir hom vir geld vra nie. Ek wou eerder 'n bydrae maak. Ek het hom altyd dopgehou as hy kar was en het toe later self geleer. Ek het agter gekom dat ek dit self kan doen en het toe ander mense se karre begin was."
Kelvin Moos, Acira se pa, het gesê hy is ongelooflik trots op sy dogter en wat sy in so 'n kort tydjie vermag het.
"Ja sy is minderjarig, maar ek help haar sover ek kan. Sy werk tydens skoolvakansies, vakansiedae en naweke en dit mag onder geen omstandighede met haar skoolwerk en sport inmeng nie. Dit was ons ooreenkoms. Daarom help ek haar ook sover ek kan."
Acira en haar pa is 'n gedugte span en werk saam baie hard om haar droom te verwesenlik.
"Hy help my met die finansies. Ek sit 'n deel weg om die voorraad te koop en het al 'n drukspuit en stofsuier gekoop. Die sjampoe, lappe en ander benodighede word ook deur die inkomste betaal. 'n Deel daarvan sit ek weg omdat ek graag eendag 'n perseel wil koop sodat ek van AC Carwash 'n ordentlike besigheid kan maak."
Moos sê hy hoop sy dogter se droom word bewaarheid.
"Sy wil ook graag ander mense aanstel eendag as haar besigheid sterk genoeg is. Ek is regtig trots op haar. Sy leer baie verantwoordelikheid en het ongelooflik selfstandig te werk gegaan met die stigting van haar besigheid."
Acira sê sy hoop om ander jong mense ook te inspireer.
"Enigiemand kan 'n sukses wees. Enigiemand kan opstaan en vir hom- of haarself sorg. Jy kan as jy wil, jy moet regtig net als insit. Om klein te begin is nie 'n skande, dit gaan oor wat jy daarvan maak.
Acira Moos en haar pa, Kelvin. Foto's: Liezl van Niekerk
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'