OUDTSHOORN NUUS - Om op 18 aangewys te word as die beste akteur tydens 'n internasionale kampioenskap in uitvoerende kunste en dan vir vier Amerikaanse agentskappe 'nee dankie' te sê vir kontrakte, getuig van volwassenheid en gesonde besluitneming.
Nie net is Quintus Viljoen, 'n matrikulant van Hoërskool Oudtshoorn, aangewys as die beste akteur in die ouderdomsgroep 18 tot 24 nie, hy het ook vyf medaljes in New York verower.
Quintus het in Februarie in George aan die provinsiale uitdunne van die Talent Africa-kampioenskap in uitvoerende kunste deelgeneem. Daarna het hy aan die nasionale kampioenskap in Port Elizabeth deelgeneem en sy plek in 'n span van vyf in sy ouderdomsgroep behaal om in New York aan die Talent America se internasionale kampioen-skap deel te neem. Hy sê die 10 dae vanaf 23 Junie tot 3 Julie in New York was uiters leersaam.
Voor die kompetisie wat vanaf 28 tot 30 Junie plaasgevind het, het hulle verskeie kursusse en werksessies gehad waartydens hy waardevolle kennis en ervaring opgedoen het.
Met die kampioenskap het Quintus vier goue medaljes vir drama verower vir onvoorbereide lees, advertensie, teatermonoloog en komedie.
In die afdeling vir dramatiese vertolking het hy 'n silwermedalje ontvang.
Die kersie op die koek was die aankondiging dat die beoordelaars hom as die beste akteur in sy ouderdomsgroep aangewys het.
Na afloop van die kompetisie het vier agentskappe hom met kontrakte genader, maar hy het hulle van die hand gewys.
"Ek wil my nie sommer net in iets begewe nie. Ek wil eers my matriek voltooi en dan rustig besluit wat ek wil doen," het hy Maandag gesê. En 'n tekort aan moontlikhede is daar beslis nie vir hierdie jong man nie. Hy sê sy eerste keuse is om Amerika toe te gaan vir dramastudies, maar dalk besluit hy om hom eers as prokureur te kwalifiseer.
"Ek wil dalk eers vir 'n LLB-graad inskryf, maar ek het nog nie regtig besluit nie. Ek weet net om akteur te wees, sal 'n groot deel van my lewe wees."
As hy 'n keuse het, sê hy, sal hy eers op die verhoog wil wees en daarna dalk oorweeg om die filmbedryf te toets.
Quintus se ouers het in 2006 uit Limpopo na Oudtshoorn verhuis en boer met Macadamia-neute in die Langkloof. Sy twee broers is onderskeidelik in gr. 9 (Hoër Landbouskool Oakdale) en gr. 7 (Laerskool Wesbank).
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'