Die jeugklub, onder die vaandel van Famsa Karoo, is gedurende April 2013 in Blomnek, De Rust van stapel gestuur en is geïnisieer deur `n opvoeder van die De Rust Primêre Skool, Alta Fourie.
Die voorkoms van tienerswangerskappe is besonder hoog in De Rust weens die afwesigheid van na-skoolse aktiwiteite. Nou het kinders `n rede om uit te sien na Woensdaemiddae.
Van die positiewe kommentaar wat van kinders ontvang is, is dat die klub "hulle uit die moeilikheid hou". 'n Ander het opgemerk dat dit hulle leer "om getrou te wees" en om "mekaar lief te hê".
Die jeugklub vorm deel van Famsa Karoo se jeugontwikkelingsplan vir die Groter Oudtshoorn en fassiliteerders is deurgaans betrokke by aktiwiteite. Verskeie projekte is reeds suksesvol aangepak, waaronder die maak van handpoppe vir poppekas, brei- en handwerk, kuns en teken, 'n modeparade, tafeltennis en sportaktiwiteite.
Die jeugklub beoog om aktiwiteite aan te bied ter lewensvaardigheidsopvoeding wat op bewusmaking en voorkoming fokus, onder meer op die voorkoming van tienerswangerskappe, dwelmmisbruik, MIV/Vigs, seksueel oordraaglike infeksies en TB, misdaad, persoonlike higiëne en persoonlike finansies); opvoedkundige en ontspanningsaktiwiteite en -speletjies; verskeie sportaktiwiteite; kulturele aktiwiteite (soos inheemse spele, dans, sang, drama and poppespel); handwerkaktiwiteite (soos houtsnee, brei- en hekel, weef van matte, kralewerk, ens.); Opvoedkundige uitstappies; Uitreike (gesinsbewusmaking, hulp om dokumentasie te bekom, waaronder identiteitsdokumente, en hulp met toegang tot maatskaplike toelaes); Diensprojekte in die gemeenskap (soos die skoonmaak van die woonbuurte, herwinning van papier, plastiek en bottels, ens.) en Omgewingsopvoeding.
Famsa Karoo steun die Jeugklub deur:
1. Die lewering van terapeutiese dienste, wat hoofsaaklik gesins- en individuele berading behels. Famsa Karoo het drie maatskaplike werkers en een maatskaplike hulpwerker in diens. Spelterapie is ook op Donderdae en Vrydae beskikbaar. Afsprake kan by Famsa Karoo se kantoor te Kerkstraat 57 in Oudtshoorn (langs Wilck Spar) gereël word, of telefonies by 044 272 7020 tussen 07:30 – 16:00.
2. Die aanbieding van praktiese lewensvaardighede waaronder identiteit, selfbeeld, kommunikasie, seksualiteit, dwelmmisbruik, MIV/Vigs ens. Vier gemeenskapontwikkelingswer-kers bied programme aan by skole, nasorgsentrums en jeugklubs, asook tydens skoolvakansies en jeugkampe.
3. Opleiding in ouerskap-vaardighede en positiewe ouerskap. Groepe van 15 ouers elk word, onder leiding van 'n gemeenskaps-ontwikkelingswerker betrek. Groepe ontmoet na-ure of selfs oor naweke en bied die geleentheid aan ouers om hulle ouerskapvaardighede op te skerp en nuwe vaardighede aan te leer.
Enige persoon of instansie wat graag by die De Rust Jeugklub betrokke wil raak, of 'n bydrae wil gee, kan Alta Fourie (Jeugklubkoödineerder) kontak by 044 241 2324 - De Rust Primêre Skool of vir Franzu Badenhorst (Direkteur: FamsaKaroo) by 044 272 7020.
Kinders is gevra om met behulp van swartsakke, koerantpapier, vere en afvalmateriaal uitrustings vir 'n modeparade te skep. Hier is die wenners van die modeparade.