OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn Christelike Jeugforum (OCJF) het 2019 op ‘n hoë noot afgesluit.
Die forum het in samewerking met die Huis van Gebed op 24 Desember 'n heerlike Kersfeesgeselligheid vir die inwoners van Rose Court, Bridgton aangebied en op 31 Desember 2019 sy jaarlikse “New Years Bash” op die oop stuk grond in Polisiehoogte gehou.
Volgens Phillip Seroux, projekbestuurder van die OCJF, is dit projekte soos hierdie wat die jeug "uit die kloue van die bose hou”.
Die forum het sy dank teenoor Pastoor Johnny Baartman, hoof uitvoerende beampte van die forum, en ook pastoor van die Huis van Gebed-gemeente, uitgespreek.
Die orgnisasie het sy program vir die jaar op Oujaarsaand met sy jaarlikse New Years Bash in samewerking met die Suid-Afrikaanse polisiediens afgesluit.
Van die plaaslike kunstenaars wat opgetree het is Lizelle van Hansen, Les Meiring, Sweet Sound, Dimitri Smith, David Bennie, Godfrey Lottering en Godfrey Fortuin.
By die geleentheid is inwoners deur die stasiekommissaris van die polisie, brig Lavona Januari, en die voorsitter van die gemeenskapspolisiëringsforum, Pat Blaauw, toegespreek.
Blaauw het ‘n beroep op inwoners gedoen om met die polisie saam te werk in die stryd teen misdaad. Volgens hom weet inwoners dikwels wie die persone is wat by misdade en smokkelary betrokke is maar rep nie ‘n woord daaroor nie. Volgens hom is samewerking tussen die polisie en die gemeenskap van kardinale belang om die vlaag van misdaad hok te slaan.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'