OUDTSHOORN NUUS - 'n Jeugdige van Oudtshoorn wat aan verkragting van 'n 10-jarige seun skuldig bevind is, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof tot vier jaar in 'n jeugsorgsentrum gevonnis.
Streeklanddros Daniël Boks het bevind dat dit die enigste gepaste vonnis in gevolge Artikel 191 (2) (i) van die Kinder geregtigheidswet is vir die 16-jarige seun.
Nie die verkragter of die slagoffer se name kan bekend gemaak word nie, omdat beide minderjarig is en hul identiteit dus deur die wet beskerm word.
Hy het in 'n pleitverduideliking wat deur sy regshulpprokureur, Brian Carelse, aan die hof voorgelees is, skuld erken. Hy het op 8 Januarie vanjaar met die kind na die Oudtshoorn-begraafplaas gestap en hom daar anaal verkrag.
Hy het geen vorige veroordelings nie en die hof het gelas dat hy vir vier jaar rehabilitasieprogramme in die Huis Outeniqua Jeugsorgsentrum moet deurloop.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'