OUDTSHOORN NUUS - Die Jeugbrigade van die Evangelies Lutherse Kerk Oudtshoorn wat vanjaar sy 70ste bestaansjaar vier, het dié mylpaal vir vier dae met verskeie funksies gevier.
Die feesverrigtinge het verlede Woensdagaand met 'n biduur in die kerk begin. Die volgende aand was vertellings uit die verlede vertel en die stigting van die brigade in 1952 voortgesit.
Die kroning van mnr. en mej. Lutheran het Vrydagaand plaasgevind. Saterdagaand was 'n suksesvolle sangaand aangebied. Die feesviering is Sondag afgesluit met 'n optog vanaf die Bridgton-sportterrein en 'n dankseggingsdiens in die St. Simons Anglikaanse Kerk.
Hulde is by dié geleentheid aan die stigters en vorige leiers van die brigade gebied.
Die brigade is in 1952 deur wyle kapt. Jan Barends, 'n gebore Lutheraan en onderoffisier uit die Eerste- en Tweede Wereldoorloë, saam met kerkraadslede begin. Die brigade het vinnig gegroei met lede van ander kerke wat ook aangesluit het.
Die brigade het in 1962 sy eerste instrumente gekry en 'n orkes onder leiding van wyle Walter von Willing begin.
Volgens die huidige leier, kapt. David Julius (74) wat reeds langer as 54 jaar by die orkes betrokke is, dien die brigade die gemeenskap met die leuse, "uit die gemeenskap vir die gemeenskap."
Talle oudsoldate was oor die jare by die brigade betrokke met eerw. John Smart wat die eerste kapelaan was.
Volgens lt. Loretta Ryneveldt is die brigade steeds baie betrokke in die gemeenskap met die orkesleier, Llewayden Jacobs wat opleiding aan die orkeslede verskaf,
"Die brigade tree gereeld by funksies van kerke, begrafnisse en die afgelope 16 jaar al by die KKNK op," sê Ryneveldt.
Julius, het sy dank teenoor almal wat 'n bygedra gemaak het om die feesviering 'n sukses te maak, uitgespreek, met spesiale dank aan past. Irene Muller en Deken Grispe van die Lutherse Moria Kring.
Besighede of individue wat die brigade met sy werk onder die jeug wil help, kan Julius by 071 609 2809 kontak.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'