OUDTSHOORN NUUS - "Die jeugprogram geniet tans groot prioriteit by die departement van gesondheid."
So het sr. Carina Engelbrecht, operasionele bestuurder by die Bridgton-gemeenskaps-dagsentrum, alombekend as die Bridgton-kliniek, onlangs met die amptelike opening van die Bridgton Jeug Sone gesê.
Volgens Engelbrecht het die personeel van die kliniek sedert Oktober 2021 in samewerking met die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) weerbaarheidsprogramme by skole in die Bridgton-area van stapel gestuur. "Met die toename in tienerswangerskappe, MIV positiewe jeug asook seksueel oordraagbare siektes het die inisiatief ontstaan dat gesondheidsdienste meer toeganklik en sigbaar moet raak vir ons jeug."
Die Bridgton-gemeenskapsdagsentrum het gevolglik in samewerking met die munisipaliteit, Lovelife en skole in area naamlik Bridgton SSS, Môrester, die Vaardigheidskool, Protea, Aurial en Bergsig Primêr, die Bridgton Jeug Sone begin.
Die Sone sal weeksdae vanaf 14:00 tot 16:00 oop wees by die kliniek vir jongmense tussen die ouderdomme 15 tot 24 jaar.
Volgens sr. Engelbrecht sal die jeug aparte ingange by die geeldeur van die kliniek gebruik waar opgeleide personeel hulle sal ontvang en dienste sal lewer. Dienste wat beskikbaar sal wees is gesondheidsvoorligting, gesinsbeplanning, geestesgesondheidsdienste en MIV-toetsing.
Vir enige verdere navrae kan sr. Carina Engelbrecht asook sr. Nicolene Hendricks by 044 272 2508 geskakel word.
Bridgton Jeug Sone is onlangs amptelike by die Bridgton-kliniek geopen. Foto: Garnett Wicomb
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'