OUDTSHOORN NUUS - 'n Jaagtog en skietery tussen vermeende rowers en verskeie polisiebeamptes, het Dinsdag 6 Desember inwoners van Uniondale groot laat skrik.
Een verdagte is doodgeskiet en 'n ander gewond, terwyl die derde verdagte te voet gevlug het. Hierdie voorval het gevolg na die vermeende rowers na bewering 'n gewapende roof ongeveer 08:20 Dinsdagoggend by Plett Juweliers in Plettenbergbaai gepleeg het.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het drie verdagtes, vermoedelik gewapen, toegang tot die juwelierswinkel in Plettenbergbaai gekry en 'n onderonsie tussen die rowers en 'n persoon in die winkel het ontstaan.
"Die rowers het juweliersware gesteel en in 'n BMW gespring en op die vlug geslaan. 'n Klopjag is van stapel gestuur en verskeie polisiehulpbronne is by die uitgange van Uniondale en Knysna ontplooi om die verdagtes voor te keer." Polisiebeamptes van Oudtshoorn was ook op die toneel.
Volgens Spies is die BMW langs die Prince Alfred-pas op die R339 tussen Uniondale en Avontuur gewaar.
"Daar het 'n skietery tussen die polisie en verdagtes ontstaan. Een van die verdagtes het uit die voertuig gespring en in die nabye bosse in gevlug. Die BMW het toe in die rigting van Uniondale gery en 'n jaagtog tussen die polisie en BMW het begin."
Die vermeende rowers het ook 'n vrou, wat in 'n Hyundai Accent gery het, uit haar voertuig forseer en verder met haar voertuig gevlug. Volgens inligting wat bekom is het die BMW na bewering langs die pad onklaar geraak. Die Hyundai is later op die N9 naby Uniondale-hoogtes deur die polisie tot stilstand gebring. Die vrou is na die hospitaal vir mediese behandeling. Dit is onduidelik watter beserings sy opgedoen het.
Die BMW is deur die polisie langs die pad gevind en van die juweliersware wat tydens die gewapende roof gesteel is, is deur die polisie teruggevind. 'n Pistool wat in die besit van een van die verdagtes was, is ook deur die polisie gekonfiskeer.
Volgens Spies is die landelike veiligheidstrukture op hoë gereedheidsgrondslag en word die area gefynkam om die verdagte wat uit die voertuig gespring het, te vind. Hy is glo in swart geklee en vermoedelik gewapen.
Die publiek word versoek om nie die verdagte te nader wanneer hulle hom gewaar nie, maar om die naaste polisie of Crime Stop by 08600 10111 te kontak.
Die Plettenbergbaai-polisie het intussen 'n dossier rakende die rooftog geopen en verskeie sake vir gewapende roof, poging tot moord en motorkaping is ook deur die polisie vir verdere ondersoek geopen.
Die gewapende roof
Knysna Plett Herald, susterskoerant van Oudtshoorn Courant het na die roof met die eienaar van Plett Juweliers gaan gesels
Schalk Vorster (94), Plett Juweliers se eienaar, en sy vrou, Irene, het vertel dat hulle omstreeks 08:20 die veiligheidshek vir 'n kliënt, wat die vorige dag in iets belanggestel het, oopgemaak het.
Volgens Vorster het drie mans by die juwelierswinkel ingekom en hom probeer oorrompel deur oor die toonbank te spring. Hy het die een verdagte se voet gegryp, maar 'n ander verdagte het toe 'n wapen teen sy gesig gedruk. Irene het die gestoei gehoor, vorentoe beweeg en begin skree toe sy sien wat aan die gebeur is.
Volgens wat Vorster vertel sou hulle nie lewend gewees het, was dit nie vir 'n skoonmaker wat die hek agter die rowers wou toemaak nie.
Die rowers het vir die skoonmaker geskrik en na hulle silwer BMW- 5 reeks gehardloop. Vorster vertel dat die winkeleienaar, Mohammed Abbas, wat langs hom handeldryf glo vir Irene gehoor skree het. Abbas het uit sy winkel gestap en die rowers gewaar en hulle probeer stop. Abbas se poging het gefaal toe een van die verdagtes 'n wapen na hom gerig het.
Vorster vertel dat nadat hulle die Plettenbergbaai-polisie gebel het, hulle in minder as twee minute op die toneel opgedaag het.
Die silwer BMW wat gebruik is om van die rooftog te vlug en in die skietery betrokke was.
Die silwer BMW wat gebruik was om van die rooftog te vlug en in die skietery betrokke was.
Een van die polisievoertuie wat in die skietery betrokke was. Foto's: Verskaf
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'