VAN WYKSDORP NUUS - Die Gourits Groepsbiosfeerreservaat (GCBR) se Jobs for Carbon (J4C) projek het onlangs die jaar se werksaamhede met 'n Oestafel vir 90 gaste by Rooiberg Lodge afgesluit.
Lede van die J4C-span wat 'n noodhulp vlak 3-kursus voltooi het, het sertifikate ontvang.
Hulle kundigheid is verlede jaar in Desember blitsvinnig aangewend om ernstige nagevolge te voorkom nadat J4C-lid Anika Swanepoel, deur 'n pofadder gepik is.
J4C se twee spanleiers, Katrian Opperman en Melvin Oosthuizen, het elk 'n skootrekenaar ontvang wat hul administratiewe take sal vergemaklik.
Elke gas het 'n spekboomsteggie gekies om in 'n spesiale #spekkies bio-afbreekbare potjie te plant.
GCBR voorsitter Willem Botha het al die rolspelers wat by die verskillende projekte betrokke is, bedank.
"Sonder mense op grondvlak wat die werk doen sal daar niks gebeur nie," het hy gesê en spesifiek verwys na bestaande projekte soos die Waterwise-projek by De Rust, wat uitgebrei sal word na Dysselsdorp en Oudtshoorn.
Hy het ook verwys na die Green Clubs, waarvan lede van Van Wyksdorp se Green Butterflies en Herbertsdale se Green Roses, teenwoordig was.
"Julle het die grootste taak om die boodskap van verantwoordelikheid vir die omgewing aan jul ouers en grootouers oor te dra."
Dr. Steve du Toit, hoof- uitvoerende beampte van GCBR, het op sy beurt gesê die fokus moet val op liefde en vennootskappe, wat op wedersydse vertroue gebaseer is.
"Die J4C-projek, wat nou 'n derde fase binnegaan, het begin met 'n idee wat uitgebou is tot 'n franchise wat wêreldwyd belangstelling ontlok.
"Ons wil 'n verskil maak in die lewens van mense en die natuurlike omgewing."
ARTIKEL & FOTO: TISHA STEYN, OUDTSHOORN COURANT KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Van Wyksdorp, Klein Karoo nuus'