OUDTSHOORN NUUS - Tydens die Oudtshoorn-besigheidskamer se eerste netwerkaand van 2021 is verskeie inwoners vereer vir hulle bydrae tot die gemeenskap met die Covid-19-pandemie.
Jaco Vorster, voorsitter van die besigheidskamer het tydens die geleentheid gesê talle mense en organisasies het met die pandemie 'n groot verskil aan mense se lewens gemaak, en gaan steeds voort om 'n verskil te maak.
Sertifikate van waardering is aan sewe persone oorhandig wat deur die bestuur van die besigheidskamer aangewys is.
Die ontvangers was:
Ingrid Noble (Jerusalema Challenge waaraan ongeveer 1 000 inwoners deelgeneem het), Hannes Stegmann, bestuurder van Mediclinic Klein Karoo (Covid-19-bewusmaking), Helen Butler en Stephan Cornelissen (kospakkieprojek), kol. Madie voormalige bevelvoerder van die Infanterieskool (ondersteuning van Trees of Hope) en Jaco Vorster (inisiëring van Trees of Hope).
Sowat 80 gaste het die netwerkaand buite Oudtshoorn by Bushman's African Dining bygewoon.
Twee besighede, Bushman's African Dining en Grand Street Studios sowel as 'n organisasie, SA Weermag veterane se Spekboom-eenheid het as nuwe lede hulle lidmaatskapsertifikate ontvang.
Tydens die geleentheid het Vorster en Lluwellyn Coetzee, munisipale direkteur van strategiese dienste, 'n inisiatief bekendgestel om samewerking tussen die sakegemeenskap en die munisipaliteit te bevorder.
As deel van die inisiatief is 'n advieskomitee op die been gebring waar lede van die sakegemeenskap sowel as amptenare van die munisipaliteit in verskillende portefeuljes gaan saamwerk om te verseker dat die band van samewerking stewig in plek is.
Vorster en Coetzee het albei benadruk dat geen dorp se besighede en munisipaliteit sinvolle dienste kan lewer as daar nie vertroue en samewerking is nie.
Ingrid Noble in Baron van Reedestraat verlede jaar waar ongeveer 'n duisend mense aan die Jerusalema-uitdaging deelgeneem het.
Chris Macpherson, uitvoerende burgemeester van Oudtshoorn, wat sy heelhartig steun aan verskeie projekte verleen en ook by Donderdagaand se netwerkaand was, het sy ondersteuning gewys deur aan die Jerusalema deel te neem.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'