OUDTSHOORN NUUS - Die protesaksie van 'n groep ontevrede inwoners van informele huise Dinsdagoggend, het vrugte afgewerp.
Die groep het Dinsdagoggend in Bongolethu by die sirkel (wyk 4) vir dienslewering betoog. Gedurende die protesaksie, het hulle die vier ingange van die sirkel met brandende buitebande afgesper.
Volgens Patrick Hendricks, koördineerder van die groep, beset hulle al ses maande die oop stuk grond oorkant die sirkel en eis hulle nou water en toiletgeriewe van die Oudtshoorn-munisipaliteit.
Ons het reeds verskeie kere met ons wyksraadslid vergader om 'n vreedsame oplossing te probeer vind sonder enige aksie van die munisipaliteit. Op die oomblik is ons 40 gesinne wat hier woon wat oumense, kinders en gestremdes insluit. Ons is nou gatvol," het hy gesê.
Enkele ure na die betoging het die Oudtshoorn-munisipaliteit besluit om mobiele toilette vir die omgekrapte inwoners wat die grond oorkant die sirkel beset, af te lewer.
Volgens inligting wat aan die Oudtshoorn Courant verskaf is sou watertenks glo ook gedurende die week afgelewer word.
Die Oudtshoorn-munisipaliteit het dieselfde dag mobiele-toilette vir die omgekrapte inwoners afgelewer. Foto's: Wyndham Ewerts
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'