OUDTSHOORN NUUS - Nuwe huise wat vol krake en gebreke is, het inwoners van Rose Valley moedeloos.
Die Oudtshoorn Courant het onlangs by sewe huise in die nuwe uitbreiding van Rose Valley besoek afgelê waar huise gekraak het, plastiek omhulsels van kragproppe en skakelaars breek, waterpype stukkend is en trappe wat na die boonste verdiepings van huise lei, losbreek.
Die huise wat besoek is, is tussen twee en drie jaar gelede aan eienaars oorhandig as deel van die behuisingsprojek wat in Rose Valley plaasvind.
Mietsie Goliath, 'n eienaar van een van die nuwe dubbelverdiepinghuise, sê haar sementtrappe is besig om onder haar voete mee te gee.
"Die krake in die trappe is so diep dat mense reg deur hulle kan sien. Die trap het al op twee plekke gekraak en as gevolg van die krake is die deel waarop mens moet trap besig om te skuif."
Goliath, wat reeds drie jaar in die huis woon, sê sy is te bang om by die trap op te loop en stuur haar seun om haar klere bo in die kamer te gaan haal.
"Ek gaan al vir omtrent 'n jaar na die munisipaliteit toe om te vra dat iemand die trap kom regmaak. Daar is elke keer 'n verskoning of die persoon met wie ek moet praat is nie daar nie. Ek kan ook nie elke dag gaan en ure daar sit nie, want ek werk," het sy vertel.
Een van die ander inwoners, Klaas Claassen, sê die plastiekwaterpype buite wat teen die huis vasgesit is, gaan almal los.
"Ek het dit al self probeer regmaak, ek het al die munisipaliteit gevra, maar niks gebeur nie. As 'n wasbak leegloop is die hele erf onder water, want die pype gaan los by die laste."
Die Oudtshoorn Courant was by minstens drie huise waar die waterpype by die laste loskom.
Die ander huise waar besoek afgelê is, het krake in die mure in die slaapkamers en kragproppe in die mure is ook stukkend.
'n Navraag is twee weke gelede aan die Oudtshoorn-munisipaliteit gestuur en die Oudtshoorn Courant het verlede week onderneem om 'n week te wag met die berig om die munisipaliteit geleentheid te gee om te reageer. Teen saktyd gister is geen reaksie egter ontvang nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'