OUDTSHOORN NUUS - Die burgemeester van Oudtshoorn-munisipaliteit, Chris Macpherson, het die week inwoners weereens gemaan om water spaarsamig te gebruik. Dit volg na waterbeperkings vroeër die maand ingestel is.
Volgens hom het die weeklikse watergebruik die hoogte in geskiet en gebruik inwoners 22 miljoen liter water 'n dag. "Die damvlakke daal teen 'n kommerwekkende 2% per week," het hy gesê.
Vlak 1-waterbeperkings word in Oudtshoorn geïmplementeer, en vlak 6-waterbeperkings is steeds op De Rust, Dysselsdorp en die Klein-Karoo Landelike Waterskema (KKLWS) van toepassing.
Blossoms:
Aurelia Mle, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, het gesê hoewel Eskom die kraginstallasie laat in Desember 2023 by Blossoms voltooi het, was dit te laat in die jaar om die kontrakteurs weer op terrein te kry om die finale instellings van die sisteem te doen.
"Die sisteem moes verlede jaar met kragopwekkers getoets word en kon die finale verstellings nie gedoen word alvorens die permanente krag in plek was nie. Ons is tans besig met die finale instellings en beoog om die sisteem ten volle in werking te hê in die volgende week of twee. Hou egter in gedagte dat hierdie Blossoms-projek ‘n noodprojek is wat slegs ongeveer ‘n kwart van die daaglikse water wat ons gebruik kan lewer. Dit los nog nie ons water tekort op nie, maar dit sal ons kan deurdra ten tyde van erge droogte. Ons moet dus nog steeds ons water uit ons ander bronne (soos die Raubenheimerdam) baie mooi bestuur. Vandaar die waterbeperkings noudat die dam aansienlik gesak het."
Vlak 1 behels:
- Huishoudings word aangemoedig om watergebruik tot hoogstens 150l/persoon/dag te verminder.
- Besproeiing van sportvelde en tuine met munisipale drinkwater word slegs toegelaat tussen 06:00 en 09:00 en tussen 17:00 en 20:00 op drie dae per week, dit wil sê Maandae, Woensdae en Vrydae. 'n Tuinslang- of sprinkelstelsel mag gebruik word.
- Besproeiing van landbougrond, kampe, parke en oop ruimtes met munisipale drinkwater is heeltemal verbode.
- Geen skoonmaak van geplaveide/beton/geteerde oppervlaktes en strukture met munisipale drinkwater deur middel van 'n tuinslange nie.
- Kwekerye en karwasbesighede mag die munisipale drinkwater gebruik onderhewig aan die industrie se beste praktyk waterbesparingsnorme en die herwinning van ten minste 50% van die water wat gebruik word.
- Besproeiing deur water, anders as drinkwater, word duidelik aan die voorkant van eiendomme aangedui waar sodanige besproeiing plaasvind, bv. 'BOORGAT WATER'.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’