Danus Lategan (74) vertel dat hy slaaplose nagte het sedert hy R17 000 se skade gely het weens diefstalle die afgelope paar maande. "Sondag is steeldag in Schultzstraat," vertel Lategan. "Helder oordag kom hulle hierdeur, glip oor die werf en steel jou goed. Een Sondag het hulle gereedskap langs my bed gesteel. Nou Sondag, toe hulle weer hierdeur loop, skel ons op hulle en toe steek hulle ons onder die klippe."
Sommige inwoners dreig nou om reg in eie hande te neem. Dit volg na `n inwoner, Luwellyn Vermaak (39), deur drie aanvallers beroof is. "Dit is die vierde keer dat so iets met my gebeur," vertel Vermaak. Die voorval het verlede Saterdag in Rademeyerstraat, kort voor ses plaasgevind toe hy op pad was na die SWD Supermark. Vermaak het vertel dat hierdie die vierde keer is wat hy `n slagoffer van so `n voorval is. "Hulle het my met `n mes gedreig en my rugsak gevat. R700 kontant, my sleutels en identiteitsdokument is gesteel."
James Frey, `n sekuriteitswag wat by Telkom werksaam is, het dadelik die polisie ontbied. "Die polisie was nog glad nie by my gewees nie," het Frey Maandag aan Oudtshoorn Courant vertel. "Ek weet nie of hulle gaan patrolleer het om die skollies te soek nie."
Frey het ook te kenne gegee dat kriminele besig is om die gebied oor te neem. "Hierdie is `n teelaarde vir kriminele - hulle beweeg dag en nag rond en hulle besteel die gebied rot en kaal." Volgens Frey is hy by `n vorige geleentheid deur polisie meegedeel dat hulle nie oor genoeg voertuie beskik om alle sektore te patrolleer nie.
Volgens Lategan dra die laksheid van speurders om sake op te volg en misdadigers op te spoor by tot die probleem. Lategan is self "voor verlede jaar" gearresteer en sy splinternuwe Beretta .22 pistool afgeneem. "Ek het dáár tussen die treinspore drie skote geskiet om die skollies te verjaag. Ek was `n skerp-skutter in die weermag. Toe gooi die speurder my in die vangwa. In die hof het die skollies vir my gestaan en lag en gesê hulle gaan my vrek maak."
Verlaat, wat duidelik getraumatiseer is na die aanval, het gesê dat hy onveilig voel. "Ek herken een van hulle wat my besteel het. Ek sien hom nog rondbeweeg."
Volgens die polisie word die gebied wel gepatrolleer en sake wat aangemeld word, word ondersoek. Kaptein Louis Visser, woordvoerder van Oudtshoorn-polisie het by navraag gesê dat die gebied rondom Schultzstraat "volgens die statistieke nie 'n noemenswaardige hoë aanmelding van misdaad (toon) nie".
Visser het bevestig dat misdade in die gebied wel aangemeld word, maar dat ander gebiede in die dorp meer misdaad-voorvalle toon.
"Dit is moontlik dat sekere misdade nie aangemeld word nie."
Visser het ook bevestig dat patrollie-voertuie getaak word om in probleemgebiede te ry. "Ons kan net aandag gee aan 'n problem as daar aanmelding van sake is. Daar word patrollies in die hele dorp sowel as in daardie omgewing (Schultzstraat) gery."
Oudtshoorn Courant het ook op 8 Maart (Inbrake het inwoners boos) berig oor toenemende inbrake en misdaad in die Schultzstraat-omgewing.
Danus Lategan (74), Luwellyn Verlaat (39) en Max Todt (70),drie van die Schultzstraat-inwoners wat bekommerd is oor kriminele aktiwiteite. Todt is `n oudsekuriteitswag en volgens Verlaat is hy snags op sy hoede om almal veilig te hou. Foto: Jacques Swart
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn | Klein-Karoo nuus'