LADISMITH NUUS - Inwoners van Mossiestraat in die woonbuurt Nissenville, het Sondagmiddag 'n protesoptog tot voor 'n beweerde smokkelhuis in die straat gehou.
Pastoor Daniël Flink het die optog van die groepie inwoners tot by die huis gelei.
Die polisie in Ladismith is vooraf van die optog ingelig en het 'n wakende oog gehou terwyl die inwoners tot by die huis waar daar na bewering met dwelms gesmokkel word, gestap het.
Volgens Flink is smokkelaars gewoonlik "vlugtelinge uit die stede" wat hul bedrywighede op die platteland wil voortsit.
Veral vroue wat aan die optog deelgeneem het was vurig en uitgesproke teen die beweerde smokkelhuis.
"Vandag vat ons ons straat terug. Ons wil ons kinders in die vrese van die Here grootmaak, maar onder hierdie omstandighede kan jy nie. Jy kan nie eers jou kind winkel toe stuur nie," het Sally Julius gesê.
Volgens Pastoor Flink stel die bewoner van die huis dit beskikbaar as afsetpunt vir smokkelaars van Kaapstad. "Hulle kom snags in om hul aflewerings te doen en het geen vaste patroon sodat 'n mens hulle kan betrap nie," het 'n ontstoke Flink gesê.
Nog 'n inwoner het beweer dat jong meisies ook by die huis misbruik word.
Die ontstoke inwoners was nog voor die huis toe die huisbewoner opdaag. Hy het aan die media erken dat hy self Tik gebruik, maar hewig ontken dat dwelms uit die huis verkoop word.
Die inwoners het hom egter vurig doodgeskreeu met die woorde:"Jy lieg, maar jy gaan sien, ons gaan hierdie plek toemaak!"
Volgens Flink gaan die polisie 'n lasbrief verkry om die perseel te deursoek, maar dit kon nog nie deur die polisie bevestig word nie.
Nadat die inwoners die bewoner van die huis luidkeels gekonfronteer het, is hulle sonder voorval uitmekaar.
'n Navraag oor die kwessie is aan die polisie op Ladismith gestuur.
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Klein Karoo nuus'