OUDTSHOORN SPORT NUUS - Vanjaar se interprovinsiale tweekamp-byeenkoms word op 4 Februarie in Oudtshoorn aangebied.
Dit is naas die SA tweekampkampioenskappe, die grootste tweekampbyeenkoms in Suid-Afrika. Dit sal ook die 33ste Highgate-byeenkoms wees wat soos gewoonlik deur Dave van der Walt georganiseer word - sy heel laaste een.
Sowat 551 atlete van agt provinsies sal aan hierdie byeenkoms deelneem. Die provinsies sluit WP, OP, Boland, KZN Grens, Griekwaland-Wes en Eden (SWD) in.
Volgens Van der Walt word daar vir die naweek, tweekamp uit die boonste rakke verwag in aanloop tot die SA kampioenskappe wat 31 Maart en 1 April in Stellenbosch aangebied word.
Van die eregaste wat reeds aangedui het dat hulle teenwoordig gaan wees, is die Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport, Anroux Marais, die uitvoerende burgemeester van Oudtshoorn (Chris McPherson), die voorsitter van die Eden-sportraad (Desmond Speelman), Blackie Swart (president van SA tweekamp) en lede van SA tweekampbestuur sowel as die voorsitters van die provinsies.
Die verrigtinge neem alreeds Vrydagaand, 3 Februarie, in aanvang met die spanbestuurdersfunksie op Highgate-volstruisplaas. Die amptelike opening is die volgende dag vanaf 07:30 by die De Jager-sportkompleks waarna daar na die NA Smit-swembad beweeg sal word. Die galafunksie en die medaljeparade sal later die aand by Highgate-volstruisplaas plaasvind.
Die aanbieder van vanjaar se interprovinsiale tweekamp, word ondersteun en bygestaan deur WP en Boland asook beamptes van die ander provinsies.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'