OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-besigheidskamer onlangse netwerkaand, geborg deur Alert Patrol is by die Oudtshoorn-gholfbaan aangebied en was 'n interessante geleentheid waartydens die nie-winsgewende organisasies; die Oudtshoorn Rotariërs en Work 4 A Living, hul doen en late in die gemeenskap verduidelik het.
Buiten dit het Alert Patrol hul personeel aan besighede voorgestel, verduidelik wat die maatskappy alles aan die gemeenskap bied en wat hulle tot dusver vermag het.
Hulle het boonop swart en rooi worsbroodjies - die kleure van die maatskappy - aan gaste bedien.
Leon Coetzee, president van die Oudtshoorn Rotariërs, het 'n verslag gegee oor wat hierdie internasionale diensorganisasie met byna 1,5 miljoen lede wêreldwyd, reeds vermag het - op globale skaal en ook plaaslik, in Oudtshoorn.
Volgens hom fokus die organisasie op die gemeenskap, jeug, gesondheid en dienslewering. In die verlede, op internasionale vlak, het die organisasie onder meer gehelp om polio te beëindig, vrede te bevorder en onderwys te ondersteun. Plaaslik was die organisasie onder andere verantwoordelik vir die stigting van die Rotariër-aftreeoord in Kerkstraat, ook 'n kleuterskool in Volmoed en 'n brille-projek wat mense in nood voorsien het van voorskrifleesbrille. Hy het inwoners uitgenooi om betrokke te raak by die organisasie.
Ricco Koen van Work 4 A Living, ook 'n internasionale organisasie, het uitgebrei oor wat hierdie instansie vir werkgewers en afwagtende werknemers kan beteken. Hulle wil eerstens mense oplei om 'n bate vir 'n besigheid te wees met die oog op werkskepping en daardeur besighede verseker van kwaliteitwerknemers wat maklik in diens geneem kan word.
Die organisasie is volgens Koen in 2007 gestig deur opleidingsentrums op te rig waar werkloses heen kon gaan en ten volle toegerus kon wees om by die arbeidsmag aan te sluit of selfs 'n besigheid te begin.
"Ons het gesien dat sonder netwerke, gesinshulp of 'n kennis van hoe om 'n werk of loopbaan te volg, baie mense eenvoudig nie geweet het hoe om te vorder en te floreer nie."
Hy het gesê dat Work 4 A Living nie daarin glo om werk of fondse uit te deel om besighede te begin nie, "ons glo in ware bemagtiging".
Dit beteken dat die organisasie nie net mense oplei in verskeie, basiese, waardevolle werksvaardighede nie, maar om hulle toe te rus met ingesteldhede wat hulle bemagtig om hul omstandighede te besit, in hul daaglikse werk te floreer en hoop vir die toekoms te hê.
As borg van die netwerkaand het Alert Patrol swart en rooi worsbroodjies bedien, met 'n tamatiesmoor daarby, natuurlik.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’