Die Oudtshoorn Courant het enkele weke gelede op die voorblad berig oor 'n ongeluk waarin twee bestuurskoolvoertuie betrokke was en waar lede van die pers gedreig is terwyl hulle foto's neem.
Woensdagoggend het 'n voertuig van Mfundisi-bestuurskool agteruit deur 'n plaasheining op die Welgelukpad gery. Met haar aankoms op die toneel was Liesel le Roux van Die Hoorn deur 'n instrukteur aangesê om nie foto's te neem nie. Sy het eers na die aankoms van die polisie en die Oudtshoorn Courant veilig gevoel om foto's van die voorval te neem.
Die Oudtshoorn Courant het met drie van die instrukteurs op die toneel probeer praat om te verduidelik dat hulle gedrag as intimidasie beskou kan word en om hulle in te lig dat die ongeluk op 'n openbare plek plaasgevind het en dat foto's wel geneem mag word. Terwyl een van hulle om verskoning gevra het en gesê het hy was onder die indruk dat hy toestemming moet gee vir foto's het die ander twee nie gereageer nie en vyandig gebly.
'n Groep vrouens wat by die bestuurskool betrokke is en langs die pad gestaan het, het die Oudtshoorn Courant luidkeels uitgejou en in Xhosa beveel om weg te gaan.
Die ongeluk het plaasgevind nadat 'n leerlingbestuurder by 'n plaasingang ingedraai het om, om te draai. Met die agteruitry het sy egter dwarsoor die besige pad gery en die heining aan die oorkant van die pad platgery. Die eienaar van die grond, Larry Markus, het op die toneel gevra wie vir die skade gaan betaal.
Hy het gesê dat 'n vorige ongeluk op die pad R3 000 se skade aan een van sy heinings aangerig het. Hy het ook na 'n nabygeleë geboutjie op sy grond gewys wat daagliks onwettig deur bestuurskole gebruik word om leerlinge op en af te laai. "Gaan kyk hoe lyk die plek bemors. Hulle gebruik dit as 'n toilet, ek sal dit maar moet laat platstoot," het hy gesê.
'n Groep besorgde werkers wat in werkershuisies op die Welgelukpad woon het hulle bekommernis oor die bestuurskole uitgespreek aangesien die pad daagliks deur dosyne skoolkinders gebruik word wat skool toe en terug stap. "Hier waar die een ingedraai het, sit ons elke oggend met ons kinders en wag vir vervoer. Wanneer ry hulle een van ons kinders raak?" het 'n bekommerde ma gevra.
Die twee instrukeurs was glad nie ingenome dat foto's op die ongelukstoneel geneem word nie. Die Welgelukpad word daagliks van sogggens vroeg tot laat saans gebruik vir bestuurlesse en verskeie ongelukke het al daar voorgekom.
ARTIKEL: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'