OUDTSHOORN NUUS - Hyundai Oudtshoorn gaan Saterdag 28 November 'n geluktrekking hou as insameling vir Lee-Ann van Sittert se Cat Hotel.
Van Sittert is 'n bekende gesig in Oudtshoorn wanneer dit kom by dierewelsyn, en veral katte.
Sy het die Cat Hotel ongeveer agt jaar gelede gestig na sy agter gekom het dat daar 'n dringende behoefte in die versorging van weggooi en rondloper katte is.
Sy probeer ook seker maak dat die hotel net 'n tydelike veilige hawe is en probeer sy om vir elke kat in haar sorg 'n liefdevolle huis te gee.
Van Sittert ondersteun ook besighede waar wilde katte 'n tuiste wil skep.
"As daar eers een kolonie ferals is sal daar nie sommer nog kom nie. Die belangrikste is om hulle te vang en te steriliseer voor hulle aanteel. Soms is dit egter nie moontlik nie en het van daardie katte reeds kleintjies. My mikpunt is dan om hokke te stel om die volwasse katte te vang en te steriliseer en weer vry te laat en die kleintjies na die hotel te neem om vir hulle huise te soek."
Die volhoubaarheid van die projekte hang egter van borge af.
"Ek vra dus dat diereliefhebbers Hyundai Oudtshoorn Saterdag sal ondersteun. Jy kan een van hul voertuie toetsbestuur, maar om dit te doen moet jy 'n sak of blik honde- of katkos as inskrywing gee en jy word ook by 'n lucky draw ingeskryf. Daar is opwindende pryse wat gewen kan word."
Die dag begin om 08:00 by Super Carwash by Pick n Pay.
Vir meer inligting kontak Van Sittert by 083 334 0172.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'