Video
TUINROETE | KAROO | HESSEQUA NUUS EN VIDEO - Die Covid-19 pandemie is dalk nie kieskeurig nie, maar die toepassing van die inperkingsmaatreëls is beslis. Dit is toenemend die opinies van veral eienaars van klein- en eenmanbesighede wat nie mag handeldryf nie.
Verskeie mense wat reeds meer as 'n maand sonder inkomste sit is dit eens dat die virus ekonomies vir hulle 'n reuseslag is.
Petro McDuling, 'n enkelma van twee kinders besit reeds die afgelope 15 jaar 'n klein meubelwinkel op Oudtshoorn. "Dit maak nie vir my sin dat ek my winkel waar ek twee of drie klante op 'n slag ontvang, moet toemaak nie, maar skaars 'n halwe blok van my af drom honderde mense voor banke en kettingwinkels saam. Weerskante van my is 'n kafee en 'n selfoonwinkel wat deur buitelanders besit word en wat mag oop wees. Hoe werk dit?"
Volgens haar het sy verlede week toestemming probeer kry om slegs vir drie dae tydens die uitbetaling van toelaes handel te dryf. "Ten minste sou dit my en my kinders van 'n bietjie kosgeld voorsien, maar die polisie het dit duidelik gestel dat ek die wet sal oortree indien ek oopmaak."
Haar sentiment word gedeel deur Wilma Wagenaar, 'n skoonheidsterapeut wat saam met 'n kollega 'n onderneming naby Spur bedryf. "Ek sien hoe troppe mense oral saamdrom, maar ons wat onder streng gesondheidsreëls elk slegs een klant op 'n slag bedien, mag nie 'n sent verdien nie." Volgens haar sal hulle moontlik eers op vlak-1 kan begin om 'n diens te lewer, maar intussen moet hulle huur betaal word.
Kyk 'n video hieronder.
Sagte teikens
Met die afdwingbaarheid van die maatreëls is dit ook duidelik dat daar makliker op sogenaamde sagte teikens toegeslaan kan word as op groot groepe. Tydens 'n betoging oor kospakkies in 'n woonbuurt buite Oudtshoorn het groepe mans, vrouens en kinders onverhinderd voor huise en op straathoeke saamgedrom nadat verskeie polisievoertuie 'n betogende skare uiteen gejaag het. Twee seuns wat 'n entjie van die plek af met hulle fietse gery het, is egter deur die polisie voorgekeer en huis toe gestuur.
In Mosselbaai het 'n bejaarde egpaar elkeen 'n stywe boete ontvang omdat hulle naby die Punt in hulle motor voorgekeer is. Hulle het onderweg van die apteek af by hulle onderneming aan die onderpunt van Marshstraat aangedoen omdat die alarm afgegaan het. Die bestuurder wat diep in die sewentigs is, maak nooit 'n U-draai oor Marshstraat nie en ry eerder met die eenrigtingstraat om die karavaanpark by die Punt op pad huis toe. Uit jare se gewoonte het hy dit weer gedoen en is toe deur die polisie voorgekeer waarna hy en sy vrou elk met R400 beboet is. "My man moes by die Punt, waar ons gestop is deur sewe beamptes en drie polisievoertuie, uitklim en in die koue wind buite staan vir ongeveer 20 minute terwyl 'n beampte die papierwerk gedoen het. Die beampte het nie 'n masker gedra nie," het die bestuurder se vrou aan Cornelle Carstens van Mossel Bay Advertiser gesê. Sy en haar man het maskers en handskoene gedra nog voordat maskers verpligtend geword het.
'n Navraag oor die toepassing van die regulasies is teen saktyd nie deur die polisie beantwoord nie.
Uit verskeie gesprekke op radio en in die media is dit ook duidelik dat die goeie gesindheid waarmee die meeste mense aanvanklik die president se maatreëls ondersteun het, tans besig is om skipbreuk te ly. Dit veral nadat maatreëls wat deur die president aangekondig is, kort daarna deur ministers geveto en verander is.
Die eienaar van MM Furnitures bevraagteken die billikheid van inperkingsmaatreëls wat bepaal dat haar klein onderneming gesluit moet wees, terwyl winkels weerskante mag sake doen en groot groepe mense in die dorp saamdrom.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'