So het die uitvoerende burgemeester van die Groter Oudtshoorn, Gordon April, verlede Vrydagoggend gesê tydens die Vryheid van die Dorp-parade ter viering van die Infanterieskool se 50ste verjaardag.
"Oudtshoorn is baie gelukkig om die skool hier te hê en die munisipaliteit het nog al die jare 'n baie goeie verhouding met die skool, iets waarop ons baie trots is. Sonder die skool sou die dorp nie so ontwikkel het nie," het April gesê.
Die bevelvoerder van die SANW Infanterieformasie, genl. maj. YM Yam, het Donderdag tydens 'n spogparade op die Infanterie-sportterrein gesê die skool is die vlagskip van die SANW-infanterieformasie en daarom is die 50ste verjaardag 'n besondere mylpaal wat behoorlik gevier moet word.
"Ons vier die trotse en ryke geskiedenis en tradisies van die Oudtshoorn Infanterieskool,'n instelling van uitnemendheid waarop die Suid-Afrikaanse Weermag opreg trots is."
Die Weermag vier vanjaar ook die 60ste bestaansjaar van die Infanterieformasie.
Yam het namens die SANW sy dank uitgespreek teenoor die inwoners van Oudtshoorn, die plaaslike munisipaliteit, die polisie en alle rolspelers vir die besonder goeie verhouding met die skool.
Eer is met 'n minuut van stilte gebring aan soldate wat hul lewens oor die jare in diens van hul land verloor het terwyl dank ook betuig is aan al die voormalige bevelvoerders en instrukteurs van die skool.
Verskeie van die oud-bevelvoerders het die viering bygewoon wat verlede Dinsdag begin het met 'n vlaghysingseremonie en Sondag afgesluit is met 'n kerkdiens op die sportterrein.
Een van die hoogtepunte van die feesviering was Vrydagoggend se Vryheid van die Dorp-parade deur die middedorp wat gelei is deur die SANW-orkes van Kaapstad.
Nog 'n hoogtepunt van die viering was 'n militêre taptoe op die Oudtshoorn sportgronde (Die Rec) Donderdagaand, met honderde Oudtshoorniete wat die koue trotseer het om dit by te woon.
Kadette van twee skole op Beaufort-Wes, die John D. Crafford Primêre Skool en die Junior Sekondêre Skool Beaufort-Wes, het die soldate teenwoordig gewys dat hulle net so goed kan dril en groot toejuiging ontvang. Hulle het agterna 'n spesiale woord van dank en waardering van genl. Yam gekry.
Die Infanterieskool se motorfietsryers het ook vir 'n paar waaghalsige toertjies gesorg.
* Die Oudtshoorn Infanterieskool het sy deure op 1 Oktober 1963 op Oudtshoorn oopgemaak en het op 15 Desember 1977 die Vryheid van die Dorp van die Oudtshoorn Munisipaliteit ontvang. Duisende soldate het die afgelope 50 jaar hul opleiding by die skool ontvang.

Die SANW se motorfietsbrigade het ook vir groot vermaak gesorg. Foto: Jo-Marie de Kock
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn | Klein-Karoo nuus'