OUDTSHOORN NUUS - Troeteldiereienaars word dringend gemaan om hul troeteldiere teen hondsdolheid te laat inent.
Die staatsveearts in Oudtshoorn het onlangs 'n dieredag gehou waar troeteldiereienaars hul diere gratis teen hondsdolheid kon laat inent.
Dr. Margot Laxton, 'n veearts van Beaufort-Wes, het gesê dit is uiters belangrik dat troeteldiere ingeënt moet word omdat hondsdolheid na mense oorgedra kan word.
"Troeteldiereienaars besef nie hoe ernstig hondsdolheid kan wees nie. Dit kan van diere na mense oorgedra word deur net 'n bietjie spoeg. As jy 'n stukkende plek op jou lyf het en 'n siek hond lek jou of net 'n druppel besmette spoeg val op jou kan jy siek word. Daar is geen geneesmiddel vir hondsdolheid in mense nie en mense gaan feitlik altyd dood daaraan."
Drie kinders in die Oos-Kaap is reeds die afgelope tyd dood weens hondsdolheid.
Die staatsveearts in Van der Rietstraat bied reg deur die jaar gratis hondsdolheidinentings aan.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'