Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Is jy bo 60 en het jy al iewers aangemeld vir jou inenting? Dit is 'n vraag wat toenemend onder mense gevra word terwyl gesondheidswerkers en medici mense aanmoedig om die inenting te kry.
Daar was verlede week 'n toename van 105% in Covid-19-gevalle in die Tuinroete teenoor die vorige twee weke.
Nadia Ferreira, die departement van gesondheid se hoof-kommunikasiebeampte in die Tuinroete en Sentrale-Karoo het die toename Maandag bevestig. Alhoewel die streek se staatshospitale volgens haar nog nie onder kritieke druk is nie, is daar tans 'n drastiese verhoging in opnames. Sy het inwoners daarop gewys dat die geleentheid om inentings as voorkomende maatreël te ontvang uiters belangrik is. Teen Maandag het 26 878 mense in die streek reeds inentings ontvang. Ferreira sê dit sluit gesondheidswerkers, tehuise vir bejaardes en openbare lokale in waar mense bo 60 ingeënt is.
Nadat inentings die afgelope twee weke by die Oudtshoorn-hospitaal toegedien is, het die inentingslokaal gister na die Toekomsrus-gemeenskapsaal verskuif.
Inentings vind vandag ook by die Blomnek-kliniek in De Rust plaas.
Kyk 'n video hieronder:
Volgens Ferreira het die departement van gesondheid die afgelope aantal weke van talle wanopvattings oor inentings te hore gekom. Sy sê dit is belangrik dat mense moet weet dat inenting beskerming kan verleen teen ernstige siektetoestand en die dood as gevolg van Covid-19, maar dat dit nie beteken 'n persoon wat ingeënt is kan die virus nie optel of versprei nie. "Daarom is dit noodsaaklik dat alle veiligheidsmaatreëls steeds nagekom word," sê sy.
LEES: Toekomsrus nou inentingslokaal
Chris Macpherson, uitvoerende burgemeester van Oudtshoorn, het Maandag gesê inwoners moet die gevare van die derde vlaag baie ernstig opneem. "Indien ons nie die voorgeskrewe protokol handhaaf nie en roekeloos optree, kan ons na vlak-4 of selfs na vlak-5 inperking terugskuif, wat nog verdere werkloosheid en armoede sal skep." Hy het inwoners van 60 en ouer aangemoedig om vir inentings by die Toekomsrus-gemeenskapsaal aan te meld. "Ons moet dit duidelik stel dat elke individu hierdie pandemie ernstig moet opneem en ter wille van hulle naasbestaandes en die breë gemeenskap die maatreëls streng gehoorsaam," waarsku Macpherson.
Suster Booysen veruidelik die proses aan een van die inwoners wat Woensdag ingeënt is.
Intussen word daar in die media berig dat president Cyril Ramaphosa hierdie week weer indringend met die Covid-19-bevelsraad vergader om die huidige stand van die pandemie te bespreek. Die boodskap deur owerhede en gesondheidswerkers is duidelik; kry jou inenting, dra jou masker, saniteer, beperk kontak met mense en vermy enige groepsgeleenthede.
Met Oudtshoorn Courant se besoek aan die Toekomsrus-gemeenskapsaal waar inentings gisteroggend begin het, was daar vroeg reeds sowat 40 mense wat opgedaag het vir inentings.
Inwoners wat Woensdag vroeg reeds by die Toekomsrus-gemeenskapsaal aangemeld het.
In 'n stap om mense bo 60 wat nog nie geregistreer het nie, ook in te ent, word 'n inentingsdag ook môre (Vrydag 25 Junie) by die Oudtshoorn-kliniek in Adderleystraat gehou.
Inwoners kan vanaf 09:00 by die kliniek registreer en hulle inentings ontvang.
Die 87-jarige Susan la Grange ontvang haar Pfizer-inenting van suster Muller by die Toekomsrus-inentingslokaal.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'