OUDTSHOORN NUUS - Inbrekers wat Sondagnag by 'n slaghuis ingebreek en groot skade aangerig het was teen gister nog op vrye voet.
Volgens Ewald Watson, eienaar van Watson & Sons-slaghuis het hulle Maandagoggend omstreeks halfses die inbraak ontdek.
"Die inbrekers het 'n veiligheidshek afgebreek en sommer saamgevat ook. Daarna het hulle die deur oopgebreek, twee kantoordeure oopgebreek en 'n kluis uit die muur gebreek," het hy Dinsdagoggend gesê terwyl werkers besig was om die skade te herstel. Die inbrekers het onder meer 'n groot ruit gebreek om vanuit 'n kantoor in die slaghuisgedeelte te kom. Watson sê hy kan nie beskryf hoe die slaghuis gelyk het toe hulle Maandagoggend inkom nie.
"Die kasregisters is uitgebreek, karkasse wat nie weggery kon word nie, stukkende kantoortoerusting en glas het die wêreld vol gelê en as ek na die vetterige handmerke oral kyk het hulle sommer so in die steel aan die biltong en droëwors geëet.
Dit blyk dat die inbrekers 'n motorhek aan die agterkant van die perseel oopgebreek het en hulle voertuig daar gelos het terwyl hulle die buit ingelaai het. Volgens hom is daar meer as R40 000 kontant, vleis en rekenaartoerusting van meer as R130 000 gesteel. Saam met die skade wat aangerig is, beloop die verlies meer as R200 000.
Terwyl daar elders berig is dat die diewe reeds vasgetrek is, het die woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, kapt. Louis Visser gister gesê die inligting is nie korrek nie.
"Daar is wel 'n vermoede wie by die inbraak betrokke kon wees, maar daar was teen vandag (Donderdagoggend) beslis nog geen arrestasies nie," het hy gesê.
Wat wel gebeur het, is dat twee werknemers van die slaghuis Maandag 'n verdagte persoon in besit van vleis met die slaghuis se plakkers op die verpakking betrap het.
Volgens Pearly Winster het sy en Jacqueline Bruintjies Maandag 'n verdagte man met 'n swart sak oor sy skouer naby die slaghuis gesien. Hulle het hom gevolg tot waar hy in 'n winkel in is. Winster kon ongemerk in die sak loer toe die man dit neersit en sy het besef dit is van die gesteelde vleis. Volgens haar het die man aangedui dat hy die vleis wil verkoop en dat daar "nog baie is waar hierdie vandaan kom".
'n Werker verf die vensterrraam nadat 'n kantoorruit wat die inbrekers gebreek het, vervang is. Foto's: Hannes Visser
Hulle het die ondersoekbeampte gekontak en volgens hulle is van die gesteelde rekenaars en voorraad by 'n huis in Dahliastraat gevind.
Watson het Dinsdag gesê die alarmstelsel wat pas aangebring is, het om een of ander rede nie afgegaan nie en hy is dus nie seker presies hoe laat die inbraak plaasgevind het nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'