OUDTSHOORN NUUS - Drie persone is in hegtenis geneem nadat hulle verlede Donderdagaand by die Oudtshoorn-rolbalklub in St. Johnstraat ingebreek het.
'n Vierde persoon is ook tydens die inbraak betrap, maar volgens sers. Gretchen Micheals, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, is dit 'n 14-jarige seun. Hy is in die sorg van sy ouers vrygelaat.
Micheals sê 'n lid van die rolbalklub het die polisie gebel en gesê daar is betreders in die klubgebou.
"Die polisie het die verdagtes in die dak van die rolbalklub gevind. Die betreders het glo deur die dak geval toe hulle van die polisie probeer ontsnap het. Niks is tydens die voorval gesteel nie, maar derduisende rande se skade is aan die klubgebou aangerig."
Die Oudtshoorn Courant het verneem dat die inbrekers toegang tot die klub verkry het deur 'n ruit te breek en die diefwering oop te buig.
Lees 'n vorige artikel: Inbraak by Rolbalklub
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'