OUDTSHOORN NUUS - Die drie Icosa-raadslede van Kannaland se poging om mosies van wantroue in die raad se topraadslede ter tafel te lê, het hulle verlede Donderdag deelname aan 'n vergadering ontneem.
Die raad se woordvoerder, Ian Avontuur, het gesê die uitsluiting volg op wangedrag van twee van die raadslede tydens Donderdag 7 November se raadsvergadering.
"Raadslede Donson en Meshoa het hulself ernstig wangedra. Hulle is herhaaldelik gewaarsku, maar het voortgegaan met hul ontwrigtende optrede.
"Die speaker het die twee betrokke raadslede gevra om die raadsaal te verlaat. Hulle het geweier, waarop die raadsvergadering sonder die twee raadslede by 'n ander lokaal voortgesit is."
Meshoa en Donson sê egter hulle het binne die ordereëls van die raad opgetree en Theron het geweier om lank-uitstaande mosies te hanteer.
Die "ander lokaal" was volgens inligting die burgemeester, Magdalena Barry, se kantoor.
Met twee DA-raadslede, Joslyn Johnson en Aletta Theron, vergesel van twee ANC-raadslede, Phillipus Antonie en Barry, was die sewe setel raad 'n kworum aan die binnekant van die geslote burgemeesterskantoor.
Net buite die deur het Icosa-raadslede, Hyrin Ruiters, Donson en Meshoa hulself uitgesluit van die verrigtinge bevind.
Icosa se nasionale woordvoerder en organiseerder, Bradley Benades, het die vierman DA/ANC nie-amptelike koalisie se optrede ernstig bevraagteken.
"Maande gelede het ons kennis gegee van mosies van wantroue in die speaker, burgemeester en onderburgemeester.
"Dis tot op hede nie ter tafel gelê nie en die vierman-koalisie kruip agter regsadvies, weg. Icosa was wetlik binne die ordereëls, die dat hulle op 'n punt van mededelings wou weet wanneer die mosies bespreek gaan word en hoe ver is die koalisie met die regsadvies wat hulle aangevra het."
Hy beskuldig Theron daarvan dat sy weier om die mosies ter tafel te lê en daarom agter geslote deure met die vierman kworum onder verdagte omstandighede met 'n raadsvergadering voortgegaan het.
Avontuur ontken Icosa se beweringe.
"Icosa-raadslid Ruiters is genooi om deel te wees van die vergadering. Hy wou nie. Meshoa en Donson is deur die speaker die vergadering belet en Ruiters het by hulle gestaan."
Hy het hom nie uitgelaat oor die bewerings dat Theron glo nie die mosies ter tafel wil lê nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'