HOFMEYR NUUS - Die vaardigheidsontwikkelingsinstansie, Hofmeyr Hugs of Hope, is verlede week genooi om die jaarlikse Ikhala-fees in Port Elizabeth by te woon.
Teresa Opperman, bestuurder van Hofmeyr Hugs of Hope, en Elmarie Vorster, hul pastorale terapeut in beheer van jeugontwikkeling, het die geleentheid bygewoon.
Bernie Dolley, besturende direkteur van die Ikhala Trust, sê hulle nooi jaarliks 'n groep organisasies wat finansieringsbystand van hulle af ontvang om hierdie opleidingsgeleentheid by te woon.
"Ikhala stel finansieringshulp beskikbaar aan organisasies wat reeds die ABCD van gemeenskapsontwikkelingopleiding voltooi het en bewys kan lewer van hul effektiwiteit in hul gemeenskappe."
Geleentheidsprekers het afgevaardigdes oor geestesgesondheid toegespreek en hulle touwysgemaak om na hul vrywilligers en gemeenskappe se geestesgesondheid om te sien. Kreatiewe ontspanningstegnieke is ook gedeel terwyl musiek-, kuns- en lagterapie ook tydens die sessies aan afgevaardigdes geleer is.
Die Elliot-trofee is vanjaar oorhandig aan Moeggesukkel van Kariega, waar 'n groep van sewe besig is om die plakkershutte in die Moeggesukkel-plakkerskamp te herstel en te verfraai. Talle toilette en watertenks is ook opgerig en selfversorgende tuine is aangelê.
Danksy die toedoen van dié groep is talle kinders sonder geboortesertifikate die afgelope jaar tot skole toegelaat.
Hofmeyr Hugs of Hope het 'n toekenning ontvang om erkenning te gee aan die verskil wat hulle in die Hofmeyr- en omliggende gemeenskappe maak. Ikhala Trust gaan Hugs of Hope vandeesweek besoek.
'Ons bring jou die nuutste Hofmeyr, Karoo nuus'