OUDTSHOORN NUUS - Die jaarlikse Hoop vir Winter-veldtog is reeds twee weke volstoom aan die gang en vanjaar het inwoners van Gottlandhuis, 'n tehuis vir bejaardes in Oudtshoorn, ook hul bydrae gelewer.
Verskeie organisasies, insluitende die Afrikaanse Christelike Vrouevereniging (ACVV), neem jaarliks aan die veldtog deel.
Warm klere, komberse en nie-bederfbare kos word ingesamel en aan persone in nood uitgedeel.
Madaleen Potgieter, 'n maatskaplike werker van Oudtshoorn ACVV, sê die inwoners van Gottlandhuis het vanjaar 'n klomp komberse, serpe, mussies, handskoene en selfs speelgoed gehekel en gebrei wat hulle aan kinders van die Oudtshoorn-gemeenskap oorhandig het.
"Twee van ons inwoners is oor die 90 jaar oud. Hulle het so hard gewerk om die pragtige, handgemaakte goedjies vir die kinders te maak en was so trots om dit Dinsdag aan hulle te oorhandig."
Oudtshoorn se plaaslike ACVV-kantoor in Ruddslaan dien as afsetpunt indien enigiemand nog 'n skenking aan die Hoop vir Winter-veldtog wil maak.
Vir meer inligting skakel Potgieter by 044 272 7603.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'