Update
PRINS ALBERT NUUS - Wanneer 'n verrotte boomstomp omval is dit kwalik nuuswaardig, maar as die boomstomp deel is van 'n bekende beeldhouprojek, is dit 'n ander saak.
Die Burgers van Prins Albert is vyf bloekomboomstompe in die hoofstraat wat in 2007 in beeldhouwerke omskep is.
Die vyf bome wat ongeveer 130 jaar oud was, is vroeër afgesaag en die beeldhouer, Richard John Forbes, het die oorblywende gedeeltes in vyf beelhouwerke omskep.
Leon Campher, Jeffrey Armoed, Willem Swanepoel en Jaco Stalmeester het hom bygestaan met die snywerk en die projek is destyds deur Absa gefinansier.
Vrydagnag, 22 Januarie, het die een "burger" wat 'n entjie regs van die ander vier gestaan het, omgeval. Die stam was heeltemal verrot.
Munisipale werkers het die oorblyfsels opgekap. Dele van die beeldhouwerk het in stukke gebreek en is weggery.
Oudtshoorn Courant het verneem dat 'n inwoner van Prins Albert glo die grootste gedeelte wat nog in een stuk was, geneem het om elders in die dorp op te rig. Nog 'n klein gedeelte wat gered kon word, word in 'n tuin in Oudtshoorn opgerig.
Volgens 'n inwoner wat naby die vyf beeldhouwerke woon, het besoekers gereeld die vyf burgers afgeneem. "Ek is jammer dat die een nou omgeval het, maar ek is ook bly dit het in die nag gebeur terwyl daar nie motors of mense naby was nie," het sy Saterdagoggend gesê terwyl Verney van Rooyen en Apools Moos van die munisipaliteit besig was met opruimingswerk.
Dié twee het aanvanklik gedink hulle sal 'n kettingsaag moet inspan om die grootste gedeelte van die boom op te sny, maar het toe besef dat die boomstomp reeds heeltemal hol was.
Die vier oorblywende "Burgers van Prins Albert". Foto: Hannes Visser
Vorige artikel: 'n Burger het geval
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Klein Karoo nuus'