CALITZDORP NUUS - 'n Gesin van Calitzdorp wat onlangs na Worcester verhuis het se harte is stukkend na hul geliefde Jack Russel-hondjie, Jasper, Saterdag in die Huisivierpas vermis geraak het.
Volgens Elsabé van der Westhuizen, het sy en haar man verlede naweek na Worcester getrek en het hy met een van hul dogters en die hond in die bakkie gery.
"Jasper was agter in die kappie van die bakkie en toe hy in die pas ry het Jasper sy kans gegryp en by die gleufie in die venster wat ons vir hom oopgehou het uitgespring. My man het dadelik gestop en geroep en begin soek, maar hy het al verder weggehardloop. Hy het op 'n ongemaklike plek in die pas gestaan en ons dogtertjie was ook nog in die bakkie. Hy het ook die karavaan gesleep."
Volgens haar het haar man meer as 'n uur na Jasper gesoek, maar dit was ter vergeefs.
"Vragmotors en ander swaar voertuie kon later nie verby hom kom nie en hy moes ry. Ek is later die middag met ons ander dogter ook deur die pas na Worcester en het ook gestop waar hy gesê het die hond uitgespring het. Ekself het omtrent 'n uur gesoek na Jasper, maar kon hom nêrens kry nie."
Volgens haar het Jasper aan Ladismith se kant van die pas min of meer by die laaste bult uit gespring.
"Ons ken nie werklik die area so goed nie want ons het nie baie lank daar gebly nie so dit is nogal moeilik om te verduidelik."
Volgens haar was sy teleurgesteld in die mense se optrede na sy 'n plasing op Facebook gemaak het oor hul vermiste Jasper.
"Mense oordeel net sonder dat hulle die storie ken en dit het my vreeslik hartseer gemaak. Ons sal nooit met opset net die hond laat wegraak nie," het sy gesê.
Jasper sal Februarie 'n jaar oud wees.
Enigiemand met inligting oor Jasper kan Van der Westhuizen by 084 708 2902 of 082 913 5902 skakel.
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Klein Karoo nuus'