OUDTSHOORN NUUS - Pligsgetrou, nederig, stiptelik, vriendelik en altyd met 'n glimlag.
So is die ontslape Susan Brenda Claassen of Tannie B (62), stenograaf by die Oudtshoorn-landdroshof, verlede week tydens 'n gedenkdiens vir haar in die Oudtshoorn-landdroshof deur kollegas beskryf.
Claassen is op 4 April aan Covid-19-komplikasies oorlede, terwyl haar eggenoot, Stephen, op 10 Maart gesterf het.
Sy is Saterdag ter ruste gelê en haar man 'n week tevore. Die areabestuurder, Royden Boonzaaier, het namens die departement van justisie meegevoel met haar familie betuig.
"Ons het 'n dierbare mense-mens en mentor verloor wat 'n deurslaggewende rol in die hof gespeel het en die regterhand was van baie landdroste oor die jare. Sy was 'n trendsetter en besonders lekker om saam met haar te werk. Iemand wat altyd kalmte in enige situasie gebring het."
Tannie B het volgens Boonzaaier in 1988 by die hof begin werk en vir twintig jaar op 'n kontrakbasis voordat sy in 2008 permanent in haar pos aangestel is.
"Daarom sal ek haar ook vir haar deursettingsvermoë onthou."
Landdros Daniel Boks het haar beskryf as 'n passievolle persoon by wie hy geleer het om altyd te glimlag en volgens landdros Ntsoki Moni in wie se hof Claassen gewerk en ook saamgereis het vir sake in Beaufort-Wes, het sy haar as 'n liefdevolle en toegewyde persoon leer ken.
Wenzel Botha van die Regshulpraad het Claassen as 'n perfeksionis beskryf en aangeneem dat wat sy in die hof gedoen het 'n refleksie was van wat sy by haar huis doen.
Hyron Goulding, staatsaanklaer, het oor Claassen gesê: "Met alle respek teenoor die ander stenograwe dink ek sy was die beste van almal en by haar was almal gelyk."
Volgens Vuyo Klaasen, hoof van die hoftolke, wat Claassen 'Honey B" genoem het, het hy baie by haar geleer. "Sy het almal gerespekteer en so respek afgedwing."
Die plaaslike hofbestuurder, Juanita Barron, het Claassen as 'n staatmaker en getroue werknemer beskryf.
Tannie B
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'