Update
OUDTSHOORN NUUS - Het jy nog altyd gewonder wat daardie wakis van oumagrootjie of die skildery wat al dekades in die gang hang, werd is? Kom vind Donderdag 28 Junie uit wanneer Suid-Afrika se voorste kuns- en oudhede-waardeerders en afslaers, Strauss & Co Oudtshoorn besoek.
Strauss & Co is tans besig met 'n besoek aan die Tuinroete waar hulle Plettenberg-baai (25 Junie), Knysna (26 Junie), George (27 Junie) en Oudtshoorn op 28 Junie besoek.
Die maatskappy is deur die bekende Stephan Welz gestig en het verlede jaar 'n omset van R329 miljoen gehad. Vir 'n donasie van slegs R20 per item sal die kundige konsultante van Strauss & Co jou stukke waardeer en die markwaarde bepaal. Die donasies wat ontvang word, word aan die Dassie Crèche in Bridgton geskenk.
Volgens Bina Genovese van Strauss & Co, is mense dikwels onbewus van die waarde van items wat reeds jare in die huis is. Sy noem die voorbeeld van 'n skildery van Vladimir Tretchikoff van 1959, wat dekades lank in 'n koffiewinkel gehang het en onlangs ontdek is. Die skildery van sonneblomme is op 'n veiling vir R1,7 miljoen verkoop.
Strauss & Co sal op Donderdag 28 Junie vanaf 10:00 tot 14:00 by Rosenhof (Baron van Reedestraat 264) beskikbaar wees.
Dit is noodsaaklik om vooraf 'n afspraak te maak deur 021 683 6560 te skakel.
Lees 'n vorige artikel: Hoeveel is jou erfstuk werd?
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'