OUDTSHOORN NUUS - Na die hittegolf wat die streek verlede week getref het, was die reën en koeler temperature van die afgelope naweek 'n welkome lafenis, maar het nie 'n einde aan die droogte gebring nie.
Bykans 80mm reën is in die Raubenheimerdam se opvangsgebied gemeet.
Met die inhoud van die vol Melvilledam bygereken, het die vlak van die Raubenheimerdam Woensdag op 54,68% gestaan.
Cornie Swart, president van Agri Wes-Kaap, het die week gesê die meeste damme van die Langeberg-gebied tot by Mosselbaai is nou vol, wat beteken produsente het besproeiingswater wat hulle vir 'n lang tyd nie gehad het nie.
"Die droogte in 'n groot gebied oos van die Hottentots-Hollandberge tot by Plettenbergbaai is so te sê gebreek. Dit sluit egter nie die Oudtshoorn-, Calitzdorp-, Montagu-, Barrydale- en Klein- en Sentraal-Karoo-gebiede in nie. Opvolgreën in hierdie streke is krities nodig."
Die groot kommer is op die stadium die Stompdrift- en Kammanassie-damme wat besproeiingswater aan boere voorsien.
Volgens Riaan Krüger van die Stompdrift- en Kammanassie-waterverbruikersvereniging, voorsien die damme besproeiingswater aan boere tussen Oudtshoorn en Calitzdorp en kon dié boere drie jaar laas water uit die damme kry.
"Ons het egter hoop dat dit die jaar beter sal gaan. Die weer lyk beter en die water wat onlangs geval het, het verligting gebring. Die Nelsrivier en Grobbelaarsrivier het lekker geloop en dit het darem plek-plek natgemaak. Dit het net ongelukkig geen verskil aan die twee damme gemaak nie.
"Daar sal baie water in die Groot-Karoo moet val as dit 'n verandering in die damvlakke by ons gaan maak."
Deon Meyer, vryskutverslaggewer, berig daar het tussen 30 mm en 40 mm reën in Kannaland geval.
Water het die Nelsrivier ingestroom en in Zoar het die Tierkloofdam oorgeloop.
Amptenare van die Kannaland-munisipaliteit het Saterdagoggend reeds vroeg die invloeigebiede by die damme besoek om te kyk watter verskil die reën aan die damvlakke maak. Water het sterk in die kanale gevloei wat water aan die omliggende plase en die JF le Grange-opgaardam voorsien.
Die reënval vir die naweek was 23 mm, aldus Leon Blignault van die plaaslike munisipaliteit.
Blignault het gesê die invloei van boorgate was 2,7 megaliter.
Plaaslike boere ontvang tydens leibeurte vir 'n sekere aantal ure water volgens 'n ooreenkoms wat met die munisipaliteit aangegaan is. Blignault het gesê daar het genoeg water geval om ook water in Parkdam in die plaaslike karavaanpark te berg. Verder is die reservoirs wat die dorp van drinkwater voorsien tot kapasiteit vol.
Damvlakke teen gister:
- Raubenheimerdam: 49,68%
- Melvilledam: 100%
- Stompdriftdam: 5,5%
- Kammanassiedam: 2%
Inwoners op die hangbrug in Kerkstraat verwonder hulle aan die Grobbelaarsrivier wat afkom.
Leon Blignault, hoof van tegniese dienste by Kannaland-munisipaliteit, by 'n kanaal wat bitter lanklaas so sterk geloop het. Foto: Deon Meyer
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Tuinroete nuus'