OUDTSHOORN NUUS - Omri van Zyl, uitvoerende hoof van Agri SA, is die hoofspreker by die dinee wat Agri Herold Landbouvereniging se Help Herold Boere in Nood-aksie op 27 Julie in Waboomskraal aanbied.
Die dinee word gereël om geld in te samel om voer, wat landswyd aan droogtegeteisterde Herold-boere geskenk is, hierheen te vervoer, en om aanvullende voer te koop vir boere wat dit net nie meer kan bekostig nie.
Volgens Van Zyl het die droogte in Suid-Afrika vir hom gewys die staat is onbevoeg om nasionale rampe te hanteer. “Ons eie (Agri SA se) fonds het amper R100 miljoen se waarde ontsluit, waarsonder 12 000 kommersiële boere geen hulp sou kry nie. Ek het nou die les geleer: Help jouself, en probeer die regering daarby betrek.”
So haal Hanlie Retief dié dinamiese jong landbouleier aan in haar rubriek Hanlie Retief praat met wat einde verlede jaar in Rapport verskyn het.
En dit is presies wat Weeber Truter en die komitee van die landbouvereniging wat Help Herold Boere in Nood tot stand gebring het, met die grootse fondsinsamelingsprojek doen.
“Ons weet ons streek is nie die enigste in die land wat gebuk gaan onder droogte nie,” sê Truter. “Daarom doen ons self iets om te keer dat ons boere heeltemal ondergaan, wat kritiese gevolge vir ons werkers en die besighede in dorpe in ons streek wat van landbouers se steun afhanklik is.”
Ollie le Roux, voormalige Springbok-rugbyspeler wat naby Bloemfontein boer, is die ander hoofspreker. Le Roux het reeds tonne voer aan die Herold-boere geskenk. “Ons kry voer van oral verniet, maar ons moet dit net self laat vervoer,” sê Truter.
CJ Stander, Springbok-rugbyspeler en Suid-Kaapse rugbyheld van Mosselbaai, is ook ‘n spreker by die dinee. Stander skenk een van sy rugbytruie wat saam met ander rugby-memorabilia tydens die dinee opgeveil gaan word.
Volgens Truter is die 25 tafels (vir 10 persone elk) wat teen R10 000 per tafel aan sakeondernemings beskikbaar gestel is, reeds verkoop.
“Ons het ekstra tafels beskikbaar gemaak sodat individue ook kaartjies vir die dinee kan bekom teen R1 000 per persoon.”
Die dinee, wat om 18:30 vir 19:00 geskeduleer is, word in die Oppie Plaas Venue in Waboomskraal aangebied.
Vir navrae en besprekings kontak Dean Barnard by 072 996 1668 of dean@oppieplaasvenue.co.za
Vir meer inligting oor die noodprojek, kontak Weeber Truter by 082 566 2070 of Christoph Strydom by 082 633 1488, of besoek die Help.
Vind Herold Boere in Nood op Facebook.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'