Update
OUDTSHOORN NUUS - Helena Ewert, Afrikaans-onderwyser by Langenhoven Gimnasium in Oudtshoorn, het onlangs haar tweede digbundel bekendgestel. Die nuwe bundel, H2O, het sy saam met haar jare lange vriendin, Hantie Kotzé, saamgestel.
Volgens haar het dit hulle twee jaar geneem om die bundel aanmekaar te sit. Haar eerste digbundel, grondstof, het in 2022 die lig gesien. grondstof is die samevatting van byna 40 jaar se werk.
Die unieke naam van die boek verwys na die skrywers wie se name beide met 'n H begin, maar ook na die chemiese simbool van water.
"Water bind alles saam en ons kan nie daarsonder leef nie. Gedigte is ook soos water. Dit bestaan uit woorde in vloei, soms in mekaar in en van een reël na 'n volgende en aan die einde vorm dit deel van iets groter."
Ewert skryf al sedert die ouderdom van 14 jaar en op 15 is van haar werk in Poort, 'n jaarlikse digbundel wat uitsonderlike skrywes van hoërskoolleerders regoor Suid-Afrika bevat, gepubliseer.
H2O is deur Turksvy Publikasies uitgegee.
Agter elke gedig is 'n kleurvolle foto wat deur Kotzé en Ewert self geneem is.
"Ons het deur foto's gegaan wat ons self geneem het en Hantie het dit verwerk. "Daarna het ons besluit watter foto by watter gedig pas. Ons het die uitleg so gedoen dat die foto en die gedig met mekaar praat, maar ook dat die gedigte wat langs mekaar lê met hulle foto's bymekaar aansluit."
Volgens Ewert het sy en Kotzé mekaar ongeveer 33 jaar gelede op universiteit ontmoet.
"Die eerste gedig in die bundel, bodemraak, het ek in 1990 vir haar geskryf. Sy het weer vir in 1995 'n gedig, ek kniel, vir my geskryf. Dit is die tweede gedig in die bundel. Ons het altyd ons passie vir digkuns met mekaar gedeel."
Ewert vertel dat hulle vriendskap altyd iets besonders was.
"Sy is 'n predikant by die Universiteits-hospitaal in Amsterdam. Ons het oor die jare effe kontak verloor, maar tog met mekaar kontak gehad wanneer ons 'n behoefte gehad het om regtig gesien en gehoor te word. Ek het by haar in Nederland gekuier toe ons die bundel afgerond het. Vir die res van die tyd het ons virtueel daaraan gewerk."
Die digbundel kan by Ewert self bestel word. Stuur 'n e-pos na dhewert@gmail.com
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’