OUDTSHOORN NUUS - Die Saartjie-voorskoolsentrum in Toekomsrus het die afgelope naweek vir die agste keer vanjaar onder diewe deurgeloop toe hul staaldraadheining (15 meter) gesteel is.
Sarie Suman, prinsipaal by dié voorskoolsentrum, het aan die Oudtshoorn Courant gesê dat die kokke vanoggend 06:00 ontdek het dat die heining skoonveld is.
Sy sé dat sy omstreeks 07:00 die Oudtshoorn-polisie in kennis gestel het van die inbraak, maar dat hulle versuim het om op te daag.
“Dit gaan my verstand te bowe gaan waarom lede van die gemeenskap ‘n voorskoolsentrum op so 'n wyse skade sou wou aandoen omdat dit op die einde van die dag sy/haar kinders van broodnodige opvoeding beroof.”
Volgens haar word daar gereeld by klasse ingebreek en geplunder. Onlangs is kruideniersware, spreiligte en opvoedkundige speelgoed ook gesteel.
Suman sé dat 'n deurloopstegie en ‘n oop stuk grond by die voorskoolsentrum toegang vir ongewenste elemente tot hul perseel vergemaklik.
"Met die vlaag inbrake wat die afgelope ruk plaasgevind het, moes ek ook ‘n noodgedwonge skrywe aan die Oudtshoorn-munisipalitiet rig om hulle te versoek om ons in dié verband by te staan," sê sy.
Sy het voorts ook ‘n beroep op die gemeenskap gedoen om te help om die inbrake by hul voorsorgsentrum te bekamp.
Persone met inligting kan 082 819 9662 skakel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'