OUDTSHOORN NUUS - Die kolgans wat Dinsdag 10 Oktober in 'n palmboom buite die polisiekantoor in Oudtshoorn vasgesit het, het na 'n suksesvolle reddingspoging en 'n besoek aan die veearts, ongelukkig weens moontlike spanning en uitputting gesterf.
Oudtshoorn Courant het vroeg die oggend verneem dat polisiebeamptes die gans in 'n palmboom omstreeks 07:00 buite hul kantore in Baron van Reedestraat gewaar het.
Dit het gelyk asof sy been in 'n tak van 'n palmboom vasgehaak het. Een van die lede verbonde aan die Oudtshoorn-polisiestasie het 'n video van die spartelende gans op 'n groep op WhatsApp gedeel en om hulp gevra.
Cango Wildlife Ranch en die Oudtshoorn-munisipaliteit is genader om die gans te probeer red.
Intussen het die gans se maat in afwagting op die dak vir hom gesit en wag.
Die reddingspoging het baie aandag gelok en almal op die toneel was hoogs bekommerd oor die gans se welstand.
'n Voertuig van die Oudtshoorn-munisipaliteit is ontbied om noodreddingspersoneel in staat te stel om by die gans uit te kom. Hy is met 'n net vasgevang en die tak waaraan hy vasgesit het is geknip om hom te bevry.
Dit is nie seker hoe lank die gans daar vasgesit het nie, maar op stadiums het hy nog gespartel en gefladder, met sy maat wat steeds op die dak van die gebou gestaan en wag het.
Hierdie ganse is volgens Gouws mono-gaam, wat beteken hulle paar lewenslank met een maat.
"Dis baie hartseer en ek was so teleurgesteld toe ek sy boksie oopmaak en sien hy is dood. Ek dink hy het al gesterf toe ons net weg was by die veearts. Ek dink die hele proses was dalk net te veel. Hy het baie spanning gehad en was waarskynlik baie moeg. Ons weet nie eintlik hoe lank hy daar vasgesit het nie. Die velle om sy poot was ook heeltemal afgeskaaf weens die gespartel," het Gouws gesê.
Volgens Gouws het stres 'n groot impak op hierdie voëls en die hele proses van die vassit, spartel, redding, veeartsbesoek en behandeling was moontlik net te veel vir die gans.
Gouws kon nie met sekerheid sê of die gans 'n mannetjie was en die wyfie die een op die dak was nie, maar het bygevoeg dat die oorblywende maat na 'n rouperiode weer 'n maat sal soek.
"Die gans se maat sal heel moontlik in die volgende seisoen 'n nuwe maat kry. Hy of sy sal oorleef, maar dit sal 'n rukkie neem voor hy of sy weer 'n maat kry," het hy gesê.
Vorige artikel: Tragiese dood van geredde Kolgans
Craig Gouws, dierkundige van Cango Wildlife Ranch, met die kolgans nadat dit uit die boom gered is.
Die kolgans se maat wag op die dak.
'n Beampte van noodreddingsdienste in die proses om die kolgans te red. Foto’s: Stefan Goosen
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’