OUDTSHOORN NUUS - Kansa Oudtshoorn het op 25 November in samewerking met Salon Petite, die Glam Guru, Hannon Bothma, genooi om die vrouens hier in Oudtshoorn 'n bietjie tou wys te maak.
Die geleentheid het by Surval Boutique-olyflandgoed plaasgevind. Bothma, met sy sjarmante persoonlikheid het elke vrou persoonlik gegroet en was reg om saam haar te staan vir 'n kiekie - hy het elke gas spesiaal laat voel.
Die gaste het lekker gelag vir sy skerp sin vir humor en selfs vertel dat hy sy pa eendag moes bel toe hy in die HAT-woordeboek lees dat jou ken eintlik 'n kwak is - "My pa het net gesê dat hy geweet het ek nie veel van vrouens af weet nie." Hy het met humor die gaste vertel watter haarstyl om te dra, hoe hulle skoonheidsroetine moet lyk en waar om die grimeerkwassie te swaai oor die gesig.
Volgens Bothma is daar drie produkte waarvolgens enige persoon se skoonheidsroetine nie kan nie - 'n reiniger, toner en bevogtiger. "Jy kan maar kyk, die met 'n goeie skoonheidsroetine se vel lyk goed wanneer hulle ouer word."
Elke gas het die nuutste uitgawe van Rooi Rose ontvang en was bederf met heerlike versnaperings. Vier dames was deur Bothma gekies vir 'n oordoen-sessie, twee vir grimering en twee vir stilering. Terwyl hy die vier dames bederf het, het hy sy wysheid van kwaste, borsels, en roompies met die gaste gedeel.
Van links is Mariska Wentzel, Maryke Storm, Hannon Bothma, Annatjie Lategan, Marina Oosthuizen, Nadia Victor, Corika Hunlun.
Bothma vermaak die dames met sy skerp sin vir humor. Foto's: Sonia Wahl
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'