KLEIN KAROO NUUS - Ten spyte van die uitmergelende droogte in die Klein-Karoo slaag boere daarin om met fyn beplanning steeds te sorg dat sommige werksgeleenthede behou word en besigheid voortgaan.
So het De Krans-wynkelders buite Calitzdorp, die wingerdblok wat jaarliks vir die publiek beskikbaar gestel word om hanepoot te gaan pluk, midde die droogte aan die gang gehou.
Volgens Boets Nel, eienaar van De Krans, het hulle gesorg dat die spesifieke blok genoeg water kry om 'n oes te lewer.
"Die korrels is wel effens kleiner, maar daar is genoeg druiwe vir die publiek om hulle jaarlikse uitstappie te kom geniet," sê hy.
Die pluktyd begin op 2 Februarie en duur elke dag van die week tot 24 Februarie teen 'n koste van R8,50 per kilogram.
'Ons bring jou die nuutste Klein Karoo nuus'