OUDTSHOORN NUUS - Animal Care Team SA is verlede Saterdag met 10 splinternuwe hondehokke, 100 kg hondekos en komberse verras.
Volgens Lee-Ann van Sittert, 'n lid van ACTSA, is die hokke deur Adel Lombaard van The Dog Box in Kaapstad geborg en die komberse en kos deur die Winter Blanket Drive.
"Dit is die vierde agtereenvolgende jaar wat ons hokke by Adel-hulle kry. Die hokke word met baie liefde geverf en nie een van hulle is dieselfde nie. Ons skenk dit weer aan die gemeenskap as ons sien dit is mense wat probeer mooi kyk na hul diere, maar nie altyd geld het vir skuiling nie," het sy gesê.
Volgens haar is dit deel van The Dog Box se Mandeladag-projek.
Van Sittert sê hulle het egter 'n probleem gehad om die hokke van Kaapstad na Oudtshoorn te bring en die South African Water Warriors wat verlede Saterdag van die Kaap af gekom het om die boere te help, het dit met 'n vragmotor gebring.
"Ons wil aan hulle baie dankie sê vir hul moeite om die hokke al die pad vir ons te vervoer."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'