LADISMITH NUUS - "My lewe hang af van 'n pensioen, ek sal nie in my daaglikse behoeftes kan voorsien indien dit van my weggeneem word nie." Met hierdie woorde het die oud-opvoedkundige, dr. David Piedt, verlede Donderdagaand sy toespraak voor 'n saal vol staatsamptenare op Ladismith begin.
Die geleentheid was 'n byeenkoms van die Civil Society Pension Redress Movement (CSPRM) waardeur staatsamptenare die regering aanvat oor die ongelykheid met staatspensioene van die GEPF.
Die CSPRM het reeds meer as 30 000 lede in die Suid-Kaap en daar word gemik om landwyd 400 000 lede te registreer.
Piedt het genoem dat die wyse waarop die land regeer word, hom bekommer. Volgens hom is die kern van die stryd nou om die resolusie wat staatspensioene aanspreek te hersien en dat CSPRM bereid is om die saak konstitusionele hof toe te neem. Hy sê staatspensioene word aan regeringsinstellings soos Denel en die SABC geleen. 'n Brief is reeds in Augustus aan president Ramaphosa gestuur en die minister van ekonomiese sake, Ebrahim Patel, is ook gewaarsku teen misbruik van pensioengeld, sê Piedt.
Staatsamptenare wat besorg is oor die regering se bestuur van hulle pensioenfonds. Dr. David Piedt aan die woord. Foto's: Deon Meyer
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'