KANNALAND NUUS - Selfonderhoudend wees is dikwels die oplossing vir hongerpyne. So sê twee inwoners van Calitzdorp, Booi Jakobs (38) en Jan Grootboom (34).
Jakobs vertel opgewonde dat hy al die jare vir boere gewerk het.
"Daar het ek gesien hoe baie hulle bespaar en geld maak met groente uit hul tuine. Hulle was nooit honger nie."
Jakobs sê verder dat dit hom aangespoor het om sy maatskaplike toelae aan te vul deur self groente te plant en te verkoop.
Grootboom beaam: "Weet jy wat kos 'n klein pakkie aartappels in die winkels? Hoekom dan nie self plant nie? Ek hou van plant en is dankbaar vir die stukkie aarde om te bewerk. Die reuk van nat grond doen my siel goed," sê hy.
Die twee-manskap noem ook dat hulle egter ook 'n opdraande stryd voer om gereedskap en water in die hande te kry.
Christolino Pêrel, bekende in landboukringe, sê dat daar tans met staatsdepartemente gewerk word om hierdie twee van 'n klein watertenkie en 'n beginnerspak te voorsien.
"Hopelik is daar dalk binnekort beter vooruitsigte vir hierdie twee opkomende boere."
'Ons bring jou die nuutste Kannaland, Karoo nuus'