OUDTSHOORN SPORTNUUS - Melissa van Rooyen, sersant-majoor verbonde aan die Oudtshoorn Infanterieskool, het onlangs 'n goue medalje losgespeel by die SANDF-pluimbaltoernooi wat in Bloemfontein gehou is.
Om die kersie op die koek te plaas, het Van Rooyen boonop ook 'n goue medalje in die vrouedubbels verower.
Van Rooyen sê dat dié toernooi die beste spelers in die gesondheidsdepartement, weermag en lugmag onder andere nooi om mee te ding waarna die wenners van hul onderskeie kategorieë dan opgeneem word in 'n nasionale span wat in Oktober teen provinsies in Oos-Londen sal kragte meet.
Die afdelings waarin meegeding is, het die ope, enkel, gemengde pare en dubbels ingesluit.
Van Rooyen vertel dat haar liefde vir die sportsoort sowat 15 jaar gelede begin het:
"Kyk, ek is maar oor die algemeen 'n sportiewe mens. Ek het egter my gewig by pluimbal ten volle begin ingooi en elke jaar, tweede of derde plek in die enkelspel behaal. Nodeloos om te sê was ek nie tevrede met dit nie, en het ek myself selfs harder gepush om te kyk of ek wel tog eendag as die beste enkelspeler by dié toernooi gekroon kan word - en so wrintiewaar kon ek dit regkry! My leuse is altyd om die beste moontlike weergawe van jouself elke dag te probeer wees en vir my om goud in die enkelspel te kon behaal, bring innerlike satisfaksie en trots, want ek het begrip vir die harde werk wat eers ingesit moet word."
Volgens Van Rooyen is sy ook tans die visepresident van die Oudtshoorn-pluimbalklub wat elke Dinsdag en Donderdag by die De Jager-sportkompleks vanaf 18:00 tot 21:00 oefen.
"Dis nie 'n ingewikkelde spel nie en al wat kort, soos met alles in die lewe, is net toegewydheid.
"Op die oomblik het ons heelwat lede wat vir die pret kom speel en die sportsoort vreeslik geniet. Almal is welkom, oud en jonk - the more the merrier."
Om aan te sluit by die Oudtshoorn-pluimbalklub kontak Van Rooyen by 083 501 0010.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’