OUDTSHOORN NUUS - 'n Groep van 14 gr. 10 en -11-leerders van Langenhoven Gimnasium het gedurende die skoolvakansie België as deel van 'n kultuur-uitruilprojek besoek. Die ervaring is deur 'n onderwyser, Marita Kruger, gereël.
"'n Onderwyser-vriendin het vertel van 'n uitruilprogram tussen hul skool in Gauteng en 'n skool in België, en ek het besluit om dieselfde vir Gimmies te doen. Ons het einde 2018 met St Aloysius' College in die stad Ninove begin gesels om die toer te reël. Die skool se naam het intussen verander na Harten College."
Die groep Harten-"leerlingen" se name is bekendgemaak en elkeen van die Gimmies kon met sy/haar "gastgezin" begin kommunikeer om die ergste vreemdheid te versag vir wanneer hulle daar aankom.
"Ons is op Brussels-lughawe ingewag deur ons gasgesinne en België-maats, wat 'n massiewe Suid-Afrikaanse vlag vasgehou het." Die Gimmies se program het drie dae van skool saam met die Belge, 'n 22 km-stap teen die Franse kus en uitstappies na Brugge (die bootrit op die kanaal) en Brussels sowel as besoeke aan die Waterloo-museum en die Belgiese Parlementsgebou ingesluit.
Die Gimmies het uiteenlopende ervarings by hul gasgesinne gehad en daar was, volgens Kruger, geweldig baie positiewe terugvoer van die leerders oor hul ervarings.
Die 15 Harten College-leerlders en hul drie leerkragte besoek Oudtshoorn volgende jaar en is reeds fluks besig met fondsinsamelingspogings vir hul kuier.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'