OUDTSHOORN NUUS - 'n Gewilde kosstalletjie in Bongolethu wat tradisionele Afrika-geregte vir toeriste voorgesit het, het Sondagoggend tot op die grond afgebrand.
Dié stalletjie het aan die 79-jarige Ma Betty Jantjies, soos sy onder inwoners bekend was, behoort.
'n Verslae Jantjies het aan Oudtshoorn Courant gesê dat die polisie haar Sondagmiddag by haar huis ingelig het dat haar kosstalletjie, wat sy die afgelope 12 jaar bedryf, in puin gelê is.
"Alhoewel ek sleg voel oor die skade troos ek myself omdat my stalletjie in elk geval sedert 2013 geplunder en besteel word.
"Vir die afgelope paar jaar moes ek derduisende rande se boumateriaal, elektriese toestelle, potte en eetgerei vervang wat elke keer net weer gebuit of beskadig word. Die kosstalletjie kon as gevolg van die skade, nooit noemenswaardig groei nie. Elke keer as ons genoeg geld gehad het om 'n alarmstelsel te bekom, moes ons dit aan die salarisse van personeel of onvoorsiene uitgawes bestee.
"Ondanks die terugslae het ek steeds baie sentimentele waarde aan my kosstalletjie geheg," het Ma Betty gesê.
Die oorsaak van die brand is in hierdie stadium onbekend.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'