Gallery
OUDTSHOORN NUUS - Met die bekendstelling van Tafelberg Uitgewers se Nuwe Stemme 6 wat Dinsdagaand 31 Oktober by CAFE.DE.MOVE.ON deur Hannes Visser aangebied is, is 'n nuwe perspektief op digkuns gegee.
Sewe van Visser se gedigte is in die bundel, wat puik resensies ontvang het, opgeneem.
Visser is een van 21 digters wie se gedigte uit 160 inskrywings en altesaam 1 100 gedigte gekies is om in die bundel van 100 gedigte opgeneem te word. Bekroonde digter Bibi Slippers en Charl-Pierre Naude was die keurders.
Nuwe Stemme 6 is die sesde in die bundelreeks wat die afgelope 18 jaar uitgegee is.
"Dit is 'n groot eer om in die bundel opgeneem te word," sê Visser. Die doel van die Nuwe Stemme-reeks is om vars nuwe digters se verdienstelike skryfwerk bekend te stel en openbare belangstelling daarin te meet.
Visser se sewe gedigte vorm deel van 'n outobiografiese bundel waarin 62 gedigte opgeneem sal word. Die gedigte belig in die vorm van 'n joernaal, 'n chronologiese greep uit die lewe van die 10-jarige Visser in 'n huis waar alkohol en disfunksionaliteit aan die orde van die dag was.
Die volledige bundel is reeds aan Protea Boekhuis voorgelê en Visser is tans besig om die gedigte aan die hand van 'n keurverslag te verwerk vir hervoorlegging. Die sewe gedigte wat in Nuwe Stemme 6 opgeneem is, vorm 'n intelligente eenheid.
Die gebruik van gewone, byna kru taalgebruik is verleidelik eenvoudig, maar spreek van skerp humor en diep insig in menswees.
Volgens Visser is die tendens vandag om gedigte in gewone gebruikstaal, wat lesersvriendelik is, te skryf. "Ek skryf graag gedigte om te kyk in hoe min woorde ek 'n storie kan vertel," sê hy.
Sy boodskap aan die ongeveer 40 gaste was dat skrywers en digters Afrikaanse lesers nodig het om die taal te laat groei en blom, het byval gevind aangesien al die bundels wat hy saamgeneem het verkoop is.
Visser is een van drie skrywers, wat in die bundel opgeneem is, wie se gedigte en kortverhale kategoriewenners was in die Bloemfontein Skrywersvereniging se jaarlikse skryfkompetisie. Hierdie skryfkompetisie is die grootste en bekendste in die land.
Visser, die redakteur van Oudtshoorn Courant, is besig om 'n roman te skryf. Hy bied kursusse in lewensvaardighede aan en is ook besig om 'n handleiding daaroor te skryf. Wanneer hy nie skryf nie, skilder hy en doen houtwerk.
Mense wat belangstel om die bundel te bekom kan Visser by 083 467 1522 kontak.
Kyk 'n video hieronder.
Mense luister aandagtig.
ARTIKEL & FOTO'S: TISHA STEYN
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'