CALITZDORP NUUS - 'n 49-jarige moordenaar van Bergsig is Woensdag in die Oudtshoorn-streekhof tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis.
Conrad Gysman het die aand van 7 Mei 2019 vir Sonja Saayman, die 19-jarige dogter van sy saamleefmaat, met 'n mes in die nek gesteek toe sy geld by haar ma wou kry.
Volgens hom het hy gelê en slaap toe 'n bord wat voor sy venster was, op hom geval het en hy gedink het dat dit 'n inbreker was.
Hy het opgestaan, 'n mes gegryp en na 'n handdoek wat glo ook voor die venster gehang het gesteek.
'n Staatsgetuie wat saam met die oorledene na Gysman se woning gegaan het, het getuig dat Gysman die oorledene se ma eenkant toe gestoot het en Saayman in die nek gesteek het.
Die staatsaanklaer, Corné Pretorius, het die hof vir langteremyn gevangenisstraf gevra.
Gysman se regsverteenwoordiger, Vaughn Shone, het die hof versoek om die bykans twee jaar wat hy in aanhouding was vir vonnis in ag te neem en daar wel wesenlike en dwingende omstandighede bestaan om van die voorgeskrewe minimum vonnis van 15 jaar af te wyk.
Streeklanddros Sylvia Mandla het die saak met die Oscar Pistorius en Van Breda-moorde vergelyk en Gysman se weergawe verwerp.
Volgens die landdros het Gysman net soos Pistorius, ook beweer dat dit 'n inbreker was. Pistorius het na 'n toe badkamerdeur geskiet terwyl hy geweet het daar is 'n vrou saam met hom in die huis. Gysman het ook geen inbreker gesien nie.
Van Breda het sy familie uitgewis terwyl die beweerde aanvaller niks aan hom gedoen het nie. Hy het beserings aan homself toegedien om sy onskuld te probeer wys.
"Die beskuldigde in die saak was nie eerlik nie en het leuens in die hof kom vertel. Hy wou ook voorgee dat hy deur 'n ooggetuie valslik geimpliseer word terwyl die getuie geen rede gehad het om dit te doen nie".
"Die beskuldigde het net aan homself gedink en 'n weerlose, ongewapende vrou se lewe geneem deur haar op 'n belangrike deel van haar liggaam, haar nek, te steek. Hy het dus die bedoeling gehad om haar dood te maak. Hy het geen respek vir 'n ander se lewe nie."
Die hof kon nie enige buitengewone omstandighede vind om van die minimum vonnis van 15 jaar af te wyk nie, het die landdros afgesluit.
Gysman is reeds by 'n vorige geleentheid onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit.
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Klein Karoo nuus'