OUDTSHOORN NUUS - Veiligheidsheinings wat rondom die perseel van die korrektiewe dienssentrum gesteel word, raak vir inwoners kommerwekkend.
Volgens een van die inwoners, wat verkies om anoniem te bly, stap sy met haar honde naby die perseel en het sy gesien dat die heinings afgesteel is.
"Dit is verregaande. Hoe moet ons wat hier naby woon veilig voel as skelms nou al die tronk se heinings steel. Die perseel is amper heeltemal oop. Dit maak dit mos maklik vir die gevangenes wat binne is en op die terrein werk om net uit te stap. En wat van die maklike toegang wat die van buite het om vir die gevangenes te gaan kuier," het sy gesê.
Oudtshoorn se korrektiewe dienssentrum het groentetuine op die perseel wat deur die gevangenes bewerk word. Die groente wat verbou word, word met ander sentrums, wat soortgelyke projekte het, uitgeruil om te verseker dat die sentrum selfonderhoudend is.
Die persele wat vir die groentetuine verwerk word is naby die heinings wat gesteel word.
Volgens die inwoner is sy egter nie seker of daar al voorvalle was van gevangenes wat ontsnap het nie.
Die perseel van korrektiewe dienste is bo in Victoriastraat geleë en grens aan 'n veld.
Met besoek van Oudtshoorn Courant aan die perseel kon daar gesien word dat groot dele van die heining en van die pale gesteel is. Daar is geen verdere beveiliging tussen die perseel van korrektiewe dienste en die veld nie.
Pale word ook gesteel.
Die oop dele is egter 'n hele paar meter van die deel waar die gevangenes gehuisves word en is nader aan die groentetuine en die personeelwonings.
Die departement korrektiewe dienste (DKD) het die week op 'n navraag van Oudtshoorn Courant geantwoord en gesê dat hulle bewus is van die probleem by Oudtshoorn korrektiewe dienste.
"Die departement van korrektiewe dienste het 'n verantwoordelikheid om misdadigers veilig te hou, maar moet ook die personeel en besoekers veilig hou. Dit is juis waarom die departement elke moontlike maatreël getref het om hoë standaard van veiligheid te bereik, en Oudtshoorn korrektiewe dienste sentrum is geen uitsondering nie," het Candice van Reenen, woordvoerder, gesê.
Sy sê verder dat die sentrum wel al 'n geruime tyd onder vandalisme en diefstal van die periferie heining deurloop.
Dele van die heining aan die agterkant van die korrektiewe dienste sentrum.
"Die saak is onder die polisie se aandag gebring en 'n formele klag is ingedien die oomblik toe die departement van die probleem bewus geword het. Die probleem is ook na die departement van publieke werke verwys. Ongelukkig is die beskadigde heining 'n veiligheidsbedreiging en daar is ongewenste persone wat toegang tot die algemene terrein van die sentrum verkry."
Volgens Van Reenen is die personeel ingelig en is daar gevra dat hul waaksaamheid moet verhoog om te verseker dat geen persone toegang tot die oortreder-afdeling van die fasiliteit verkry nie en dat geen oortreder kan ontsnap nie.
"Die departement kan verder bevestig dat 'n projek van die herbou van die muur binnekort sal begin. DKD wil die gemeenskap verseker dat hulle veilig is en dat die veilige bewaring van oortreders 'n prioriteit bly. Personeel gaan ook voort om deurlopende en gereelde patrollering van die omtrek uit te voer. Ons doen 'n beroep op die gemeenskap om nou saam te werk met die DKD en SAPD om hierdie misdadigers aan te meld deur kriminele aktiwiteite aan te meld en enige kennis wat hulle oor die diefstal mag hê, by die naaste polisiestasie aan te meld."
Adjudant-offisier Gretchen Micheals, polisiewoordvoerder, het egter gesê dat geen klagtes in die verband by hulle aangemeld is nie.
Lemmetjiesdraad wat by korrektiewe dienste afgesteel word.
'n Hele strook van die heining wat afgesteel word. Foto's: Liezl van Niekerk
'Ons bring julle die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'