OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn is die dorp met die derde meeste gevalle van geslagsgebaseerde geweld in die Wes-Kaap. Vir dié rede is 'n konferensie met die tema 'Manne in die Spieël' in die Toekomsrus-gemeenskapsaal gehou. Die konferensie, aangebied deur die Suid-Afrikaanse polisie, die Oudtshoorn-munisipaliteit, Famsa en die Oudtshoorn Gemeenskapspolisieringsforum (GPF), is deur net meer as n 100 mans van alle ouderdomme bygewoon.
"Mans moet voor die spieël gaan staan, na hul beeld kyk en dink watter voorbeeld stel ek vir my seuns en die gemeenskap. Die oorsaak van geslagsgeweld word grotendeels toegeskryf aan armoede, werkloosheid, dwelm- en alkoholmisbruik."
Die Tuinroete-distrikskommissasris van die SAPD, Maj.gnl. Norman Modishana, het gesê dit is onmoontlik om 'n polisiebeampte in elke straat te wil sien en daarom is dit van kardinale belang dat mans meer betrokke raak en nie altyd die blaam op die polisie plaas nie.
"Dit is 'n skande dat die meeste misdaad deur mans gepleeg word. Mans moet hul vroue, kinders, familie en die gemeenskap beskerm en misdaad aanmeld," het Modishana gesê.
Franzu Badenhorst van Famsa sê statistieke toon dat geslagsgeweld en interdikte op Oudtshoorn skokkend hoog is.
Hy het 'n beroep op Oudtshoorn se mans gedoen om by buurtwagte en wykskomitees betrokke te raak en 'n meer aktiewe rol te speel in hul gemeenskappe.
"Ons sien hoe misdaad voor ons oë plaasvind, maar bly tjoepstil."
Volgens die burgemeester van Oudtshoorn, Chris Macpherson, het die tyd aangebreek dat alle gemeenskappe saamstaan in die stryd teen geslagsgeweld.
Hy het aangekondig dat die munisipaliteit 'n massaoptog teen geslagsgeweld beplan tydens vanjaar se 16 dae van geen geweld teen vroue en kinders-veldtog.
"Ek daag alle mans uit om vir die dorp se vroue te wys dat ons bereid is om vir hulle op te staan," was Macpherson se pleidooi.
Mans wat die Manne in die Spieël-konferensie bygewoon het. Foto's: Garnett Wicomb
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'